AfriForum eis antwoorde van SAMRK oor gebrek aan beloofde regsaksie teen Malema-haatspraak

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag antwoorde van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) geëis rakende hul belofte om EFF-leier Julius Malema hof toe te neem vir haatspraak – ’n waarborg wat blykbaar nie gerealiseer het nie. AfriForum, duisende van sy lede, sowel as lede van die publiek het klagtes by die SAMRK ingedien oor uitlatings wat Malema gemaak het tydens ’n EFF-vergadering op 16 Oktober 2022.

Die SAMRK het op 8 November 2022 aan Malema skriftelike kennis gegee om hierdie stellings, wat die SAMRK bevind het dat dit wel haatspraak en aanhitsing tot geweld is, terug te trek en om verskoning te vra. Sou Malema versuim het om aan hierdie eise te voldoen, het die SAMRK belowe om Malema na die Gelykheidshof te neem om ’n tussentydse interdik te verkry.

In die lig van Malema en die EFF wat geweier het om verskoning te vra en geen oënskynlike teken dat die SAMRK by hul woord gehou het om Malema en die EFF hof toe te vat nie, eis AfriForum in ’n prokureursbrief dat die SAMRK skriftelike terugvoer gee oor:

  1. Of Malema die verlangde verskoning verskaf het? Indien wel, versoek AfriForum ’n elektroniese afskrif daarvan.
  1. Of die SAMRK die Gelykheidshof genader het vir die toepaslike tussentydse interdik en/of ander verligting? Indien wel, versoek AfriForum elektroniese afskrifte van al die hofstukke wat tot op datum ingedien is.
  1. Indien die SAMRK nog nie die Gelykheidshof genader het soos hy onderneem het om te doen nie, waarom het die SAMRK nie sulke stappe gedoen nie?
  1. Of die SAMRK ’n finale besluit geneem het om die Gelykheidshof te nader soos hy onderneem het om te doen?
  1. Of die SAMRK enige van die duisende individue betrek het wat gekla het oor die gewraakte optrede van Malema? AfriForum is tot op hede nie deur die SAMRK genader vir enige vorm van sodanige betrokkenheid nie.

“As die Menseregtekommissie nie sy beloftes nakom nie, hoe kan diegene wat deur haatspraak of aanhitsing tot geweld geteiken word, enige versekering in sy toekomstige beloftes vind? Is Julius Malema bo die wet verhewe? Het hy te hoë profiel geword vir die MRK om aan te vat in die hof? Beskou die MRK haatspraak teenoor sekere minderheidsgroepe as minder ernstig as ander? Hopelik sal AfriForum, ons lede en die breër publiek binnekort duidelike antwoorde hê,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

AfriForum sal sy lede en die publiek op hoogte hou van die jongste verwikkelinge in hierdie stryd teen haatspraak en aanhitsing van geweld teen minderheidsgemeenskappe deur hoëprofielpolitici en politieke partye.

Soortgelyke plasings