|

Apiesrivier-buurtwag en ander veiligheidsrolspelers voer sigbaarheidspatrollie uit

AfriForum se Apiesrivier-buurtwag het op 6 Januarie ’n sigbaarheidspatrollie in samewerking met die Apiesrivier-Noord-gemeenskapspolisiëringforum (GPF) en die Hammanskraal-polisie uitgevoer.

Die patrollie is uitgevoer om sigbaarheid van die Apiesrivier-buurtwag in die area te verhoog en sodoende die kriminele aktiwiteit weg te dryf.

Daar was altesaam 37 voertuie asook 88 lede van die gemeenskap en die SAPS wat aan die patrollie deelgeneem het. Gedurende die patrollie is daar ongeveer 1143 km afgelê. Alle deelnemers het streng aan al die vereiste regulasies voldoen en binne die raamwerk van die wetgewing opgetree. Geen ernstige misdaadvoorvalle is aangemeld nie.

“Dit is vir AfriForum van kardinale belang om met sigbaarheidspatrollies voort te kan gaan om die veiligheid van ons gemeenskappe te verseker,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Noord. “Samewerking tussen verskillende strukture is uiters belangrik gedurende hierdie onsekere tye. Suksesse soos hierdie word deur samewerking en doeltreffende kommunikasie tussen die gemeenskap en ander veiligheidsrolspelers gedryf. Die buurtwag stel ’n goeie voorbeeld van wat bereik kan word wanneer die gemeenskap saamstaan en proaktief optree.”

Die Apiesrivier-buurtwag doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak en hul veiligheid te prioritiseer. Sluit met ’n vrywillige maandelikse bydrae aan: SMS “Apiesrivier” na 45340 (R1) en word deel van die oplossing.

Soortgelyke plasings