|

AfriForum eis Lekwa-Teemane-munisipaliteit om dadelik stokkie te steek voor Vaalrivier-besoedeling

Die onwettige storting van riool is ’n misdaad, daarom sal AfriForum druk op die Lekwa-Teemane Plaaslike Munisipaliteit toepas om te verseker dat die besoedeling van die Vaalrivier onmiddellik gestop word.

AfriForum het dié inhoud op 11 Julie in ’n dringende brief aan die Lekwa-Teemane-munisipaliteit vervat nadat die burgerregteorganisasie klagtes ontvang het van rou riool wat uit verskeie verstopte mangate naby Bloemhof en in Christiana uitvloei direk in die Vaalrivier in. AfriForum is ook in besit van video’s en foto’s wat met ’n hommeltuig geneem is wat die erns van die besoedeling aandui. Alhoewel die besoedeling tans nie plaasvind nie, is dit egter ’n gereelde probleem dat die mangate oorspoel en riool dan in die rivier beland.

AfriForum eis onder meer die volgende van die Lekwa-Teemane-munisipaliteit:

  • Dat daar geheel en al ’n einde aan die besoedeling gebring word.
  • Dat kundiges se hulp ingespan word om ’n verslag op te stel wat die oorsaak van die probleem uiteensit.
  • Die munisipaliteit moet ’n aksieplan saamstel wat uiteensit hoe die probleem opgelos gaan word, asook wat beplan word om dit in die toekoms te voorkom. Hierdie aksieplan moet aan die AfriForum-takke in Bloemhof en Christiana gestuur word.
  • ’n Vergadering moet so spoedig moontlik tussen AfriForum, die munisipaliteit en ander rolspelers plaasvind om die probleem te bespreek.
  • Die munisipaliteit moet fondse allokeer om te verseker dat die rioolwerke se infrastruktuur opgeknap en onderhou word.

Die Lekwa-Teemane-munisipaliteit het tot 16 Julie om op AfriForum se brief te reageer.

“Die storting van riool in riviere is ’n uiters groot probleem in Suid-Afrika. Die besoedeling van varswaterbronne hou groot implikasies in vir die kwaliteit van ons drinkwater. AfriForum sal aanhou om die onwettige storting van riool te beveg en so ook die nodige druk toepas om ’n einde aan hierdie tipe besoedeling te bring. Ons sal verseker dat die regte persone verantwoordelik gehou word,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

AfriForum se Bloemhof- en Christiana-takke beplan om verdere projekte te begin om die omgewing te verbeter en die gemeenskap te beveilig. 

Raak vandag nog by AfriForum se takke betrokke en help om jóú omgewing te beveilig en op te knap. Besoek AfriForum Bloemhof en AfriForum Christiana op Facebook vir inligting oor projekte.

Soortgelyke plasings