|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Hoërskool Florida

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 7 Maart 2022 by die Hoërskool Florida in Roodepoort besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer hoe om te onderskei tussen afknouery en konflik. Die doel van hierdie praatjie is om leerders te bemagtig. Hoërskoolleerders is ook met meer inligting toegerus oor die gevare rondom kuberafknouery,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Generasie Z en Generasie Alpha verstaan soms nie hoe boeliegedrag lyk nie omdat vandag se boelievoorvalle nie slegs fisies is nie, maar grotendeels in die kuberruim. AfriForum se teenboelieveldtogspan het ons oë kom oopmaak vir wat dit beteken om in vandag se tyd as ’n boelie geklassifiseer te word, die tekens om voor uit te kyk in leerders se gedrag, asook hoe leerders teen boelies van vandag kan opstaan en hoe om hulle te identifiseer en hoe die situasie reg hanteer kan word. Die geestelike aspek van om jouself geestelik voor te berei om op te staan vir jouself en vir jou uniekheid in die wêreld was soos ’n briesie vars lug en het die uitkyk van die leerders verander,” sê Talita van Niekerk, onderwyseres by die Hoërskool Florida.

Vir meer inligting rondom AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings