|

AfriForum eis optrede van SANRAL voor nóg sleepwaens van Wes-Kaapse brug af tuimel

Die gure weer in die Wes-Kaap het vir die hoeveelste keer verwoesting op die brug by die Hugenote-tonnel gesaai toe ’n sleepwa én ’n woonwa die afgelope naweek in twee afsonderlike voorvalle van dié brug af gewaai het. Beide het nagenoeg 45 m ver geval. Dít, tesame met nog twee voertuie wat op dieselfde brug omgeslaan het, is die jongste in ’n reeks voorvalle wat deur die jare deur gevaarlike winde veroorsaak is. AfriForum meen egter met die nodige beplanning deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL) hoef die naweek se gebeure homself nie te herhaal nie.

“Gegewe die erns van die situasie en potensiële gevare wat dit inhou, glo AfriForum dit is van uiterste belang om hierdie kwessie dadelik die hoof te bied om die veiligheid van alle motoriste te verseker,” sê Deon de Jager, AfriForum se hoof van gemeenskapstrukture vir die Suidstreek.

AfriForum het vandag ’n dringende skrywe aan SANRAL gerig rakende die veiligheidsrisiko’s op die brug by die Hugenote-tonnel. Hierin eis AfriForum dat SANRAL dadelik optree deur kragte saam met die burgerregteorganisasie te snoer om die probleem op te los.

AfriForum is tans in gesprek met weer- en veiligheidskenners om kort- en langtermyn oplossings aan SANRAL voor te lê. Dié kundiges ondersoek die moontlikheid om moderne tegnologie te gebruik om windsnelhede te meet en vroeë waarskuwings aan motoriste uit te reik wat oor die brug ry. Daarbenewens stel AfriForum ook ondersoek in na langtermyn oplossings, insluitend die moontlikheid om versperrings op hoogliggende brûe te verhoog om beter beskerming teen sterk winde te bied. AfriForum is in samesprekings met siviele ingenieurs om die lewensvatbaarheid en uitvoerbaarheid van hierdie maatreëls te bepaal.

“Ons is dankbaar dat daar geen lewensverliese tydens die afgelope naweek se voorvalle was nie, maar dit is nie te sê dat motoriste volgende keer só gelukkig sal wees nie. Ons glo dat samewerking tussen AfriForum en SANRAL noodsaaklik is om hierdie dringende kwessie die hoof te bied,” sluit De Jager af.

Ondersteun AfriForum se saak hier.

Soortgelyke plasings