|

AfriForum eis taakspan wat brandstigting van vragmotors hokslaan

Die burgerregteorganisasie AfriForum doen ’n beroep op Bheki Cele, minister van Polisie, om dringend ’n veelsydige taakspan bymekaar te roep om die persone wat verantwoordelik is vir die onlangse vragmotorbrande aan te keer. Dit volg ná ’n derde voorval op 10 Julie waar vragmotors deur gewapende persone voorgekeer en aan die brand gesteek is.

Johan Kruger, strategiese raadgewer by AfriForum, meen dat beide president Cyril Ramaphosa en Cele dringend leierskap moet toon om hierdie vlaag van vragmotorbrande hok te slaan voordat die situasie verder eskaleer. “Dit is duidelik dat hierdie ’n gekoördineerde poging is deur groepe om sabotasie te pleeg, vragmotorbestuurders te terroriseer en ekonomiese skade aan vervoermaatskappye en die land se ekonomie te doen. Dringende ingryping op verskeie vlakke is nou nodig en Cele kan nie nou sy kop in die sand steek nie,” sê Kruger.

“Die SAPD se onvermoë om vinnig en beslissend op te tree het die land in die verlede al groot skade berokken en is eenvoudig ’n vrypas vir hierdie misdadigers om voort te gaan met gekoördineerde pogings om die land te destabiliseer,” sê Kruger voorts.

Volgens Kruger is AfriForum se plaaslike veiligheidstrukture reeds op die uitkyk vir soortgelyke verdagte optrede en help hulle om inligting in te samel wat aan die SAPD gegee kan word. “Die publiek speel ook ’n baie belangrike rol in hierdie omstandighede en ons doen ’n beroep op mense wat inligting oor hierdie voorvalle het om na vore te tree en ons te kontak met toepaslike inligting,” sluit Kruger af.

Soortgelyke plasings