|

AfriForum en Akademia spreek onderwysers toe by die ECKED Anti-bullying Indaba

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan en privaatvervolgingseenheid het saam met Akademia op 26 Augustus as gassprekers opgetree by die ECKED Anti-bullying Indaba in George. Hierdie indaba word deur die Wes-Kaapse Departement van Onderwys aangebied en die teenboeliespan is deur dié departement genader om ’n aanbieding tydens hierdie geleentheid te doen. Die aanbieding was spesifiek op onderwys gerig.

Die doel van hierdie Indaba is om onderwysers te bemagtig met die nodige kennis en vaardighede om boeliegedrag in hul skole hok te slaan.

“Tegnologie ontwikkel daagliks. Dieselfde kan gesê word van kinders se vermoë om te boelie. Boeliery, wat eens net op die skoolterrein of op die skoolbus plaasgevind het, het nou uitgekring na boeliery deur tegnologie en sosiale media. Dit is daarom belangrik om onderwysers in te lig oor die gevare van die internet en sosialemediaplatforms en hoe om proaktief op te tree wanneer hul uitvind dat kinders onder kuberboeliery gebuk gaan, en wat om te doen om kuberboeliery oor die algemeen te voorkom,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

Daar is doeltreffende strategieë ​​teen afknouery. Kuberafknouery is egter ’n onsigbare, stille vyand. Soos met enige wangedrag, moet ons afknouery deur dissiplinêre stappe hanteer. Ons fokus op die sanksie as ‘n afskrikmiddel, maar die voorspelbaarheid van die ‘wet’ is die enigste ware afskrikmiddel en voorkomende maatreël wat ’n doeltreffende en blywende impak op wangedrag kan hê. As die wet vir beide partye voorspelbaar is, sal dit as ’n voldoende afskrikmiddel dien,” meen adv. Phyllis Vorster, ’n aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

“Die skolegemeenskap in die George-omgewing is by uitstek besig om gemeenskapsverbondenheid en -verantwoordelikheid op te neem en die skolegemeenskap met uitdagings, veral rondom boeliegedrag by skole aan te durf. Hierdie Anti-bullying Indaba-inisiatief is ’n uitreik waar die onderwysers bemagtig word om binne hul professionele raamwerk, kundig opgelei te word om die uitdagings holisties aan te spreek. Empatie loop sterk deur onderwysers se are en ons moet harte en hande sterk maak om werklikwaar ’n verskil te maak in gemeenskappe. Akademia beklemtoon juis gemeenskapswaardes en het ten doel om in die onderwysopleiding die hart en denke aan te spreek en so te vorm dat ’n betekenisvolle impak in ’n gemeenskap gemaak moet word. Dit is juis hier, met Akademia se waardes en fokus om ander gemeenskappe met kundigheid te ondersteun, dat dit ’n wonderlike voorreg was om deel van hierdie projek en Indaba te kon wees,” sê Elana Kriel, dosent in Lewensvaardighede, Opvoedkunde en Akademiese Vaardighede Programkoördineerder by Akademia.

“To the speakers from AfriForum and Akademia, you reminded us that we are the teachers and we need to stand our ground by standing firm and being positive because we need to know our purpose and why we are here. Teachers are the role models and thank you for showing us that we weren’t necessarily taught how to deal with bullying and cyberbullying, but to teach children and that we, as teachers, also have rights, and the important lesson is that we must never walk alone. Thank you for showing us that through all of that, teachers are the superheroes,” sê Lynn le Grange, hoof opvoedkundige spesialis aan die Wes-Kaapse Departement van Onderwys..

“Ons wil graag die Wes-Kaapse onderwysdepartement geluk wens met hierdie wonderlike inisiatief om onderwysers te bemagtig, veral wanneer dit kom by boeliegedrag. Ons onderwysers speel ’n belangrike rol in ons kinders se lewens en hulle lê die fondasie vir ons toekomstige dokters, rekenmeesters, prokureurs, politikusse en entrepreneurs. Veilige skole sorg ook vir veilige gemeenskappe, nie net nou nie, maar ook in die toekoms,” sluit Bräsler af.

AfriForum se kuberboeliegids is gratis beskikbaar. Klik hier vir meer inligting oor die gids.

Soortgelyke plasings