AfriForum: Weg met rassekwotas; fokus op toegang tot fasiliteite en afrigting

AfriForum het vandag in ’n mondelinge voorlegging voor die Krieket SA (KSA) se Social Justice and Nation Building- (SJN-)paneel gesê dat KSA onder regeringsdruk en politieke inmenging geswig het deur rassisme deur middel van rassekwotas struktureel deel van Suid-Afrikaanse krieket te maak. AfriForum is genooi om voor die paneel te verskyn nadat dié organisasie vroeër vanjaar ’n skriftelike voorlegging aan die SJN-komitee gemaak het. 

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is sy organisasie sterk gekant teen enige vorm van rassisme en rassekwotas in sport . Hy glo dat daar eerder pogings aangewend moet word om te verseker dat elke jong atleet toegang tot fasiliteite en goeie afrigting kry.  “Slegs op dié wyse sal die land se talent ten volle kan ontwikkel en daar verhoed kan word dat spelers se waardigheid al op skoolvlak deur rasgebaseerde spankeuses geskend word,” sê Kriel. 

AfriForum het as alternatief tot kwotas ’n sespuntplan vir sportontwikkeling aan die SJN-paneel voorgehou. “Sou AfriForum se sespuntplan vir sportontwikkeling toegepas word en politieke agendas vermy word, sal ware bemagtiging van gemeenskappe en mense kan plaasvind. Sport het die vermoë om gemeenskappe saam te snoer, maar politieke inmenging in sport loop die risiko om gemeenskappe uitmekaar te jaag,” sê Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Sport. 

“Rassekwotas is immoreel, skend spelers se menswaardigheid en vererger ongelykheid. Boonop is dit teenstrydig met die regulasies van internasionale sportliggame. Dit benadeel sport in geheel,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum. 

Soortgelyke plasings