|

AfriForum en Tradisionele Gemeenskappe bevorder volhoubare naasbestaan

AfriForum en verteenwoordigers van die kantoor van iNkosi (opperhoof) Zwelothando Mabandla van die AmaBhele kaJamangile Tradisionele Gemeenskap en die kantoor van Kgosi (opperhoof) Gabo Moroka van die Barolong Boo Seleka Tradisionele Gemeenskap, het Orania besoek met die doel om interkulturele dialoog, vreedsame naasbestaan en aanvaarding van diverse kulturele identiteite te bevorder. Hierdie twee tradisionele gemeenskappe bevorder reeds landbou-ontwikkeling en ’n kultuur van selfstandigheid in hul gemeenskappe en het hierdie geleentheid benut om te sien hoe Orania funksioneer as ’n gemeenskap wat selfstandigheid bevorder.

Kgosi Gabo Moroka is verlede maand erken as Motshwaredi (regentes) van die Barolong Boo Seleka Tradisionele Gemeenskap ná ’n dekade lange leierskapstryd. ’n Gesamentlike landbouprojek by die Noga’s Post Village van Thaba ’Nchu het reeds sy eerste oes opgelewer. “Robert Alan het geskryf: Kulturele verskille moet ons nie van mekaar skei nie, maar kulturele diversiteit bring eerder ’n kollektiewe krag wat die hele mensdom kan bevoordeel. Saam staan ons sterker in die soeke na oplossings om ’n toekoms te bou waarvoor ons wens, en ons sal saamstaan om te verseker dat ons gemeenskappe floreer en vooruitgaan. Die Bybel sê: Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. (Hand. 10:34-35)”. Dit is tyd dat ons almal doen wat reg is in vrede, respek, verdraagsaamheid en liefde,” sê Kgosi Gabo Moroka, regentes van die Barolong Boo Seleka Tradisionele Gemeenskap.

Die Jamangile kaMabandla koninklike familie is reeds besig om ’n selfstandige gemeenskap met veiligheids-, opvoeding-, gesondheids-, ontspannings- en kinderspeelfasiliteite te skep. Die visie is om ’n nuwe intelligente landboubuurt te bou om die gemeenskap op te hef en om aan families die geleentheid te bied om deel van ’n gemeenskap te wees wat verantwoordbaar is aan mekaar terwyl voedselsekerheid, landelike ontwikkeling en armoedeverligting geprioritiseer word. Eerste stappe is onlangs geneem in die uitvoering van die gesamentlike landbou-ontwikkelingsprojek. “Dit is tyd om dialoog en versoening tussen mekaar te bevorder en om ’n volhoubare toekoms te bou waar gemeenskappe mekaar respekteer en in vreedsame naasbestaan leef. Die instelling van tradisionele leierskap is die struktuur wat stabiliteit in landelike gebiede verskaf, dié instelling het ook ’n rol om te speel om selfstandigheid en outonomie te laat herleef deur projekte soos die landbou-ontwikkelingsprojek wat ons in samewerking met ander rolspelers aangepak het,” sê iNkosazana (prinses) Bhelekazi Mabandla, hoof van koninklike diplomatieke dienste van die Jamangile kaMabandla koninklike familie.

“’n Toekoms waar gemeenskappe floreer sal moontlik wees wanneer daar wedersydse begrip tussen kultuurgemeenskappe is en hierdie gemeenskappe op grond van wedersydse erkenning en respek in ’n netwerk saamwerk,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum. “Elke uitkoms wat bereik word, begin met ’n eerste tree. Dialoog, versoening en begrip begin by ’n eerste gesprek. Ons het opgestaan en ’n eerste gesprek gevoer en moedig ander gemeenskappe aan om dit ook te doen. Ons moet onthou dat God se gedagtes nie ons gedagtes is nie en ons optrede is nie soos Syne nie, ons moet doen wat reg is en Hom vertrou met die uitkomste,” sluit iNkosazana Bhelekazi af.

Soortgelyke plasings