|

Geen vullisverwydering, geen rekening, eis AfriForum

AfriForum eis van die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit om nie rekeninge vir vullisverwydering aan die inwoners van die munisipaliteit te stuur nie. Dit spruit uit die opskorting van verskeie dienste in dié munisipaliteit sedert ’n onwettige staking aan die einde van Julie begin het. Vullisverwyderingsdienste in die Tshwane-metro is die afgelope twee maande so te sê tot stilstand gebring. Daarom voer AfriForum aan dat die heffing van die vullisverwyderingstarief op inwoners se maandelikse munisipale rekeninge nie in hierdie omstandighede billik is. Daar kan nie van inwoners verwag word om steeds te betaal vir dienste wat nie gelewer word nie.

“AfriForum besef dat die metro in ’n baie moeilike situasie is as gevolg van die staking, maar  hy het steeds ’n grondwetlike verpligting teenoor inwoners om volhoubare dienste soos vullisverwydering te lewer. Dit is daarom irrasioneel om te eis dat inwoners moet betaal vir ’n diens wat nie gelewer word nie,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake.

AfriForum het in ’n vergadering die afgelope Donderdag met die metro voorgestel dat inwoners slegs 50% van die normale tarief moet betaal vir die tydperk waarin die dienste nie gelewer is nie – die ander 50% word gebruik om stadsreiniging te befonds. AfriForum het as alternatief voorgestel dat die rekeninge pro-rata bereken word volgens die hoeveelheid keer wat die spesifieke inwoners se vullis verwyder is.

Coetzee voer verder aan dat die metro se verordening op vullisbestuur voorsiening maak vir inwoners om van die metro te versoek om hul munisipale vullisverwyderingsdienste te kanselleer. “Dit is belangrik dat inwoners goeie redes verskaf indien hulle versoek om die diens te kanselleer. ’n Geweldige gesondheidsrisiko as gevolg van die sporadiese lewering van die diens kan as rede voorgehou word. Die kansellasie van munisipale vullisverwyderingsdienste en die aanstelling van privaat diensverskaffers kan ’n volhoubare alternatief vir deeltitelskemas en komplekse wees, omdat dié dienste beter en goedkoper mag wees.”

“AfriForum het reeds baie werk gedoen om op ’n praktiese wyse die vulliskrisis te help oplos. Ons takstrukture het reeds gesorg vir vullisverwydering in Garsfontein en Moreletapark met die hulp van privaat kontrakteurs sowel as AfriForum se sekuriteitsmaatskappy, Forum Sekuriteit. Ons tak in Pretoria-Wes het vragmotors en werknemers wat vullisverwydering hanteer, op hul roete in dié gebied begelei en gehelp om asblikke leeg te maak. Waar moontlik sal AfriForum voortgaan om oplossings te bied om die krisis in die Tshwane-metro op te los. Dit is belangrik dat inwoners kennis neem dat ons vullisverwyderingsdienste kan verskaf teen ’n goedkoper prys indien ons die geleentheid gegun word,” sê Coetzee.

Soortgelyke plasings