|

AfriForum gebruik nog 30 ton teer om pad in Lichtenburg te herstel

AfriForum se Lichtenburg-tak het op 17 September 2021 ’n groot teerprojek in Eerstestraat voltooi. ’n Padoppervlak van ongeveer 350 m2 is met 30 ton teer herstel. Dié projek vorm deel van die tak se volhoubare teerprojek wat vanjaar van stapel gestuur is om teen munisipale verval te veg. Daar is vanjaar met al die hulp van ondernemings en gemeenskapslede reeds meer as 100 ton teer gebruik om die dorp se paaie te herstel. Dit sluit die Eerstestraat-teerprojek in.

Die totale omvang van die herstelwerk is nou ongeveer 1 000 m2 en het ongeveer R300 000 gekos. Die suksesvolle projek in Eerstestraat wys dat AfriForum se tak in Lichtenburg sal aanhou veg en bou teen munisipale verval.

“Dié slaggatprojek is ’n uitstekende voorbeeld van die sukses wat behaal kan word indien ’n gemeenskap saamstaan en weier om swak dienslewering te aanvaar. Deur harde werk kan ons ons toekoms terugvat. Die ondersteuning van sakeondernemings en individue vir hierdie projek is ongelooflik,” sê Steyn Kearney, voorsitter van AfriForum se Lichtenburg-tak.

“Ek het nie aan die begin van die jaar gedink dat ons dié projek op so ’n groot skaal sal kan dryf nie, weens verskeie uitdagings. Die ondersteuning wat ons uit die gemeenskap ontvang het, is egter oorweldigend en dit maak hierdie projek moontlik. ’n Groot woord van dank aan NWK en Secram Asphalt and Emulsion wat gesamentlik 11 ton teer geborg het vir die projek in Eerstestraat,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Die tak beplan om hierdie projek voort te sit. Indien gemeenskapslede of ondernemings by die projek betrokke wil raak of slaggate wat herstel moet word wil aanmeld, kan Pine Pienaar, bestuurslid van die tak wat die projek bestuur, gekontak word by 082 371 5312.

Word vandag nog deel van AfriForum se Lichtenburg-tak: SMS “Lichtenburg” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings