Mthethwa se versoek aan Rugby SA ruik na diktatorskap

AfriForum beskou Nathi Mthethwa, die Minister van Sport, se aandrang dat Rugby SA teen spelers moet optree wat nie die knie vir die linkse, polities gedrewe Black Lives Matter-beweging gebuig het nie, as diktatoriaal. Dit volg op Mthethwa se reaksie nadat agt Suid-Afrikaanse spelers nie gekniel het voor ’n wedstryd wat die naweek in Engeland tussen Harlequins en Sale Sharks plaasgevind het nie.

“Mthethwa se versoek is kenmerkend van ʼn regering wat toenemend diktatoriaal optree en vir burgers wil voorskryf hoe hulle moet dink en optree,” sê Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum.

Roets beklemtoon verder dat die #BLM-beweging – wat ’n sterk Marxistiese agenda dryf – en die stryd teen rassisme nie dieselfde ding is nie.

“Mense kan hulle eie keuses maak oor hoe om rassisme te beveg. Dit beteken geensins dat mense ’n ideologiese belaaide beweging waarmee hulle nie assosieer nie moet ondersteun om aan die stryd teen rassisme deel te neem nie,” sê Roets.

Die agenda wat deur die #BLM-beweging gedryf word is doelgerig daarop uit om gesinswaardes, samelewinginstellings en die Westerse kultuur en die geskiedenis af te breek.

Die linksgesindes slaag tans daarin om mense die knie te laat buig deur die illusie te skep dat hul standpunte die allesoorheersende openbare mening verteenwoordig, een waarby almal moet inval. Hulle kry dit reg deur op onverdraagsame wyse intimidasiestrategieë te gebruik om enigiemand wat dit durf waag om anders as hulle te dink valslik as rassiste en booswigte te brandmerk.

“Jy hoef nie jou knie te buig óf die #BLM-beweging te ondersteun om rassisme te beveg nie. Dit is elkeen se eie keuse en reg om dié besluit te neem,” sê Roets.

Soortgelyke plasings