|

AfriForum gee redes waarom NGV gedoem is om te misluk

AfriForum het vandag ’n voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid gedoen waarin verskeie redes aangevoer is waarom die voorgestelde Wetsontwerp vir Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gedoem is om te misluk.

“Verskeie staatsondernemings, insluitend die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Eskom en Transnet, het reeds onder die ANC-regering gevou of is op die rantjie van die afgrond. Die NGV is op ’n baie groter skaal as hierdie staatsondernemings en die regering het reeds bewys hulle het nie die wil om korrupsie te beëindig nie. Korrupsie sal dié stelsel heeltemal droog tap,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Duvenage het in sy spreekbeurt voor die komitee die NGV in geheel verwerp en gesê die impakstudie waarop die wetgewing gebaseer is, is vol onwaarhede en onakkurate aannames. Hy het ook genoem dat 62% van alle COVID-19-noodfondse onregmatig aangewend is.

’n Ander groot bekommernis is die potensiële verlies aan opgeleide mediese personeel.

Na raming het die land tussen 2014 en 2019 omtrent R1,5 triljoen weens korrupsie verloor. “Dis onmoontlik om te bepaal presies hoeveel die NGV sal kos en daar is nie fondse beskikbaar om daarvoor te betaal nie,” sê Duvenage.

Indien privaat mediese fondse uitgeskakel sou word, sal die staat dié tekort self moet delg. AfriForum en Solidariteit meen dit sal noodgedwonge tot hoër belasting vir individue lei. Solidariteit het verlede jaar ’n verslag uitgereik waarin die verhoging van belasting op verskillende inkomstegroepe uiteengesit is indien die NGV en die nasionale fonds vir maatskaplike sekerheid (NFMS) in hul huidige vorme inwerking sou tree.

Volgens dié berekening sal ’n individu wat byvoorbeeld meer as R7 275 en minder as R18 018 per maand verdien, 338,1% meer belasting moet opdok.

“’n Ander groot bekommernis is die potensiële verlies aan opgeleide mediese personeel. Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging het reeds in Junie verlede jaar gewaarsku dat soveel as 38% van sy 12 000 lede beplan om te emigreer indien die NGV wel ingestel word. ’n Verdere 6% voer ander redes aan waarom hulle wil landuit, terwyl 17% onseker is of hulle dalk ook oorsee groener weivelde wil gaan opsoek. Die land ondervind reeds ’n tekort aan opgeleide mediese personeel en om nog ’n klomp van hulle aan die buiteland te verloor moet ten alle koste voorkom word,” sê Duvenage.

Duvenage sê indien die staat die enigste verskaffer van gesondheidsdienste sou word, sal derduisende mense wat tans in die privaatsektor werk hul inkomste verloor. “Dit sal die staat van verdere belastinginkomste ontneem en die privaatsektor, wat tans ’n groot leemte in mediese sorg vul, verwoes en probeer vervang met ’n onwerkbare alternatief. Daar is ook baie vrae oor die dekking wat buitelanders onder die voorgestelde NGV sal geniet.

“Gemeet aan ander staatsondernemings sal die NGV gebuk gaan onder korrupsie, oorbodige burokrasie, swak bestuur en oneffektiwiteit,” waarsku Duvenage.

Hy sê die regering gebruik die NGV om stemme onder arm landsburgers te werf wie met reg rede het om te kla oor die huidige swak mediese sorg wat hulle in staatshospitale en die res van die openbare gesondheidsektor kry.

“Die NGV is nie die antwoord nie en sal die totale toegang tot kwaliteit mediese sorg verder laat afneem. ’n Alternatief sal wees om die huidige stelsel te hersien en te herstel. Meer privaat mediese fondse moet eerder aangemoedig word as een gesentraliseerde fonds wat makliker geplunder kan word. Die vryemarkstelsel sal ook help om met ’n gedesentraliseerde stelsel die beste koste-effektiewe model vir verbruikers daar te stel,” meen Duvenage.

Soortgelyke plasings