|

AfriForum gereed om kommentaar op destruktiewe wetsontwerp oor NGV in te dien

AfriForum is gereed om kommentaar op die wetsontwerp oor Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in te dien sodra die tydperk vir openbare deelname oopgestel word. Die burgerregte-organisasie het hierdie sosialistiese plan van die ANC sedert die aankondiging daarvan teengestaan.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het onlangs terugvoer gegee oor verskeie loodsprojekte van die NGV. Luidens ’n verslag is die loodsprojekte van R4,9 miljard opgestel met geen duidelike raamwerk vir die monitering en evaluering daarvan nie. Tog beur Mkhize voort met die NGV wat volgens hom voor Maart 2020 in werking sal tree.

Mkhize het verder oor die loodsprojekte gesê dat “as iets nie werk nie, sal iets anders probeer word. Nieteenstaande gaan ons voort daarmee [die NGV]”. Volgens ’n studie deur AfriForum kan die NGV belastingbetalers tot R446,8 miljard per jaar kos en nie R30 miljard soos Mkhize aanvoer nie.

“Mkhize se houding oor die vermorsing van belastingbetalers se geld om ‘iets anders te probeer’ is baie blasé. Hy wil met alle mag voortbeur met hierdie wetsontwerp. Dit bly egter vir AfriForum ’n raaisel waarom enige moderne regering só ’n universeel mislukte sisteem wil naboots. Wanneer ’n mens verder die omvang van die veranderinge oorweeg wat die NGV voorstel, is dit grof nalatig om nie ’n akkurate verstaan van die kostes te hê nie en steeds met implementering voort te gaan,” sê Natasha Venter, veldtogbeampte by AfriForum.

Meer kommerwekkend is Mkhize se uitsprake dat Suid-Afrikaners in die nuwe NGV-bedeling nie die reg gaan hê om ’n spesialis te spreek of ’n MR-skandering te laat doen net omdat hulle geld het nie. Almal moet volgens Mkhize gelyke toegang tot spesialisdienste hê. “Maar, wat dit in effek beteken is dat die staat sal kan besluit watter behandeling jy nodig het, wie dit moet verskaf en waar jy dit moet ontvang. Praktiese implikasies hiervan kan insluit dat die staat byvoorbeeld kan besluit wie ’n vrou se ginekoloog moet wees, asook waar en deur watter metode haar kind gebore moet word of watter kankerbehandeling ’n pasiënt moet kry.”

Pres. Cyril Ramaphosa het tydens sy toespraak by die ondertekening van die Presidensiële Gesondheidskomponent gesê die doel is om een gesondheidstelsel vir een land te hê. Volgens hom beteken dit dat almal dieselfde gehalte van gesondheidsorg moet hê. Verder sal een gesondheidstelsel volgens Ramaphosa beteken dat hospitale, klinieke en dokterskamers genoeg personeel en hulpbronne het.

“Die ANC beloof ’n gesondheidsutopie vir behoeftige mense in die samelewing. Dít terwyl die gesondheidsdepartement jaar ná jaar een van die departemente met die swakste oudits is. Die probleem met een gesondheidstelsel vir almal is verder dat daar van slegs 8,3% van die mense (belastingbetalers) verwag gaan word om vir die hele land se gesondheidsorg te betaal. AfriForum sal voortgaan om hierdie destruktiewe wetsontwerp te beveg en kommentaar teen die wetsontwerp indien sodra die tydperk vir openbare kommentaar daarop oopgestel word,” sluit Venter af.

Soortgelyke plasings