|

AfriForum gryp in: Munisipaliteit wil Prieska-museum sluit; historiese items word reeds verwyder

Die AfriForum-tak in Prieska eis ’n dringende vergadering met die bestuur van die Siyathemba Plaaslike Munisipaliteit om die toekoms van die Prieska-museum te bespreek. Dit volg nadat dit onder AfriForum se aandag gekom het dat die munisipaliteit die museum wil sluit en na bewering reeds toestemming aan ’n onbekende persoon gegee het om museum- en argiefstukke uit die museum te verwyder.

In dié vergadering wil AfriForum die moontlikheid bespreek om die instandhouding van die museum by die munisipaliteit oor te neem. “Ons glo dat hierdie oorgang vir alle partye voordelig sal wees en dat dit die behoud van hierdie museum sal verseker,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

In ’n brief wat AfriForum op 15 Augustus per e-pos aan die Siyathemba-munisipaliteit gestuur het, versoek dié organisasie dat geen items uit die museum verwyder word totdat ’n aantal vrae beantwoord is nie. Sover AfriForum kon vasstel, is die museumstukke wat reeds verwyder is, nie items wat op bruikleen aan die museum beskikbaar gestel en derhalwe nou weer deur die oorspronklike eienaars opgeëis is nie.

AfriForum eis nou antwoorde van die munisipaliteit oor onder meer wie toestemming gegee het vir die verwydering van die museumstukke; waarom hierdie stukke verwyder word; en wanneer hierdie items terugbesorg sal word.

Hierdie verwikkelinge is egter ’n herhaling van Julie 2020 toe die munisipaliteit gedreig het om die museum te sluit en van die historiese items ontslae wou raak. AfriForum het destyds ook ingegryp en die museum besoek om ondersoek in te stel. Die organisasie het toe ook ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig maar geen terugvoer ontvang nie. Die Prieska-museum het sedertdien onveranderd gebly tot vandag toe.

“Indien die munisipaliteit nie binne ’n redelike tyd op die vrae reageer nie, sal ons [AfriForum] aanvaar dat die verwydering van die items ongemagtig is. Ons sal dan die betrokkenes by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aankla,” sluit Smit af.

Die Prieska-museum is ​​in die dorp se hoofstraat geleë en neem besoekers op ’n reis terug in tyd – vanaf dié dorp se ontstaan in die 1800’s tot die meer onlangse verlede. Die museumversameling sluit onder meer in outentieke landbougereedskap en -toerusting wat in die vroeë jare op plase in dié gebied gebruik is. Die museum vertel ook die storie van Prieska en sy mense deur die uitstallings wat talle historiese huishoudelike items bevat.

Soortgelyke plasings