|

AfriForum help om onwettige storting in Springs te stuit

Die behoefte aan betroubare dienslewering in Springs het dié AfriForum-tak genoop om samesprekings met die Ekurhuleni Plaaslike Munisipaliteit te hou oor belangrike kwessies wat die gemeenskap raak. Die Springs-tak het onder meer daarop aangedring dat die munisipaliteit daadwerklike stappe doen om die onwettige storting van vullis hok te slaan. Die onwettige storting spruit uit die sluiting van die gebied se enigste vullisterrein.

AfriForum het in April met die munisipaliteit vergader en uitgelig dat talle straatligte onklaar is, verskeie parke en velde sleg onderhou en verwaarloos is, en dat die sluiting van die Rietfontein-vullisterrein ’n ernstige uitwerking op die welstand van die omgewing het. Die vullisterrein is sedert Mei verlede jaar gesluit weens operasionele probleme, wat inwoners genoop het om van hul vullis aan die buitewyke van Springs ontslae te raak. Dit terwyl ander inwoners hul vullis op sypaadjies gestort het. Die vullis het in ’n stadium so erg opgehoop dat dit ondernemings in die gebied negatief beïnvloed het.

Nadat die Springs-tak herhaaldelik terugvoer geëis het oor die heropening van die vullisterrein het die munisipaliteit meegedeel dat die Rietfontein-vullisterrein  eindelik weer oop gestel gaan word. Die Rietfontein-vullisterrein is reeds amptelik  oop vir die publiek.

Die tak het in dieselfde vergadering ’n lys van strate met gebreekte straatligte aan die munisipaliteit oorhandig om te prioritiseer. Die munisipaliteit het onderneem om hierdie straatligte so gou moontlik te herstel en het vandeesmaand begin om stukkende gloeilampe te vervang. Die munisipaliteit het verder gesê dat hy ook begin het om parke en velde te tem.

“Wanneer alle gemeenskapslede, insluitend die plaaslike regering, saamwerk om ’n gebied te verbeter, word daar outomaties ’n beter toekoms vir almal gebou. Die onlangse vergadering met die munisipaliteit is ’n bewys dat daar ’n gemeenskaplike wil is om die Oos-Rand te verbeter en die welstand van die gemeenskappe te verseker,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder van die Oos-Rand.

Die Springs-tak doen ’n beroep op inwoners om betrokke te raak by gemeenskapstrukture soos dié wat AfriForum bied. Besoek www.wordlid.co.za om by hierdie AfriForum-tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings