|

AfriForum-inligting toon plaasaanvalle styg steeds

Die aantal plaasaanvalle het in die derde kwartaal van 2023 skerp gestyg. Dit het inderwaarheid nou toegeneem tot ’n vlak waar nagenoeg een aanval elke dag op ’n plaas in Suid-Afrika plaasvind. AfriForum se afdeling vir gemeenskapsveiligheid het, vir die tydperk vanaf Julie tot September 2023, 88 plaasaanvalle, waaronder 13 plaasmoorde, aangeteken. In die tydperk van April tot Junie is daar wel meer plaasmoorde aangemeld (naamlik 23), maar die aantal aanvalle was minder (naamlik 73).

Maand-tot-maand het aanvalle vanaf Junie tot Julie effens afgeneem (van 29 na 27 aanvalle), maar die syfer het in Augustus die hoogte ingeskiet. Augustus is tot dusver, met 37 aanvalle, die maand waarin die meeste aanvalle nóg dié jaar aangeteken is. Dis die tweede keer dié jaar wat meer as 30 plaasaanvalle in een enkele maand aangeteken is. Die vorige keer wat dié vlak bereik is, was in Januarie vanjaar toe 31 aanvalle aangeteken is.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum-woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, kan daar verwag word dat, indien die huidige tendens voortgesit word, die aantal plaasaanvalle in die vierde kwartaal van dié jaar selfs verder sal styg.

Die Vrystaat en Gauteng het die afgelope kwartaal die swaarste onder plaasaanvalle deurgeloop, met onderskeidelik 18 en 16 aanvalle wat in dié provinsies aangeteken is. In die Wes-Kaap, Limpopo en die Oos-Kaap is ook elk minstens tien aanvalle vanaf Julie tot September vanjaar aangemeld.

Veral bejaardes word tans in plaasaanvalle geteiken en in 55% van aanvalle was persone van 60 jaar of ouer die slagoffers. In die meeste gevalle word aanvalle deur minstens twee misdadigers uitgevoer.

Broodryk hou vol dat indien plaasaanvalle ’n aanduiding is van misdaadvlakke in die algemeen, wag daar verdere slegte nuus op Suid-Afrika wanneer die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) Vrydag die amptelike misdaadsyfers vir die derde kwartaal van 2023 bekendstel. Die uitbreiding van gemeenskapsveiligheidstrukture is daarom, volgens Broodryk, nou noodsaaklik. Voorts is goedopgeleide lede in dié strukture wat die nodige veiligheidsmaatreëls binne die raamwerk van die wet sal toepas, ’n vereiste.

Jacques Broodryk, AfriForum-woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid

“Ons het die afgelope tyd reeds gesien watter bydrae goed georganiseerde gemeenskapsveiligheidstrukture kan maak in die bekamping van misdaad. AfriForum se Potgietersrus-buurtwag het byvoorbeeld in September vanjaar, in samewerking met ander veiligheidsorganisasies, gehelp om vier verdagtes aan te keer wat na bewering betrokke was by ’n plaasaanval in die Mokopane-omgewing,” verduidelik Broodryk.

AfriForum het tans 169 plaas- en buurtwagte, amper 40 hommeltuie wat ingespan kan word om misdaad te help bekamp en sowat 11 000 opgeleide vrywilligers wat landwyd deel vorm van dié organisasie se veiligheidstrukture. AfriForum sal voortgaan om druk op die regering te plaas oor hul wankelrige toewyding tot landelike veiligheid. Die organisasie sal voorts ook aanhou om die verskaffing van opleiding, toerusting en ondersteuning aan gemeenskappe en slagoffers van plaasaanvalle te prioritiseer deur AfriForum se snelgroeiende netwerk van buurt- en plaaswagte. 

Soortgelyke plasings