|

AFRIFORUM JEUG EIS AFDANKING VAN UK-DOSENT EN ANTWOORDE OOR RASSISME OP KAMPUS

AfriForum Jeug het vandag ’n dringende skrywe aan die bestuur van die Universiteit van Kaapstad (UK) gerig in reaksie op onlangse voorvalle van ’n rassistiese aard op dié kampus. Drie eise word in die skrywe aan die universiteitsbestuur gestel.

In die eerste plek word geëis dat die UK-dosent Lwazi Lushaba afgedank word nadat hy die stelling gemaak het dat die uitwissing van ’n minderheid deur ’n sosialistiese maghebbende meerderheid (naamlik Hitler se Nazi-party) nie verkeerd was nie.

Tweedens eis AfriForum Jeug dat die universiteit sy studenteraad (SR) tot orde roep ná die SR ’n oproep gerig het ten gunste van die gebruik van geweld teen minderhede wat nie ideologies met hulle saamstem nie. Die eerste oproep van dié aard is op 19 November 2020 teen wit en bruin Afrikaanssprekendes gemaak en sover bekend is geen stappe in dié verband teen die lede gedoen nie. Op 7 April 2021 het die SR wéér ’n kennisgewing uitgestuur waarvolgens hulle hul magsposisie en status as ’n meerderheid gebruik om iemand van ’n minderheidsgroep – gebaseer op sy ras, geslag en seksuele voorkeur – te probeer diskrediteer en te eis dat sy tydelike aanstelling beëindig word. Dit het geskied nog voor hy selfs sy verpligtinge aanvaar het. Die SR se kritiek kan dus nie aan wangedrag of ’n tekort aan kundigheid toegeskryf word nie, maar wel aan ’n rassistiese, seksistiese en hetero-fobiese houding aan die kant van die SR.

In die derde plek word inligting aangevra in verband met ’n video wat versprei is waar studente van ’n meerderheidsgroep ’n oproep tot geweld teen ’n minderheid doen. Na bewering het die voorval ook op die UK-kampus plaasgevind en is die teenwoordiges studente van die universiteit. AfriForum Jeug het reeds op 19 Maart 2021 ’n e-pos in verband met hierdie video aan die UK-bestuur gestuur met die versoek om meer inligting oor die voorval, maar wag steeds op ’n antwoord.

“Die patroon van voorvalle wat deur UK-verwante persone gepleeg word en die gebrek aan optrede deur die UK-bestuur skep die indruk dat die UK sulke gedrag goedkeur,” sê Bernard Pieters, bestuurder van AfriForum Jeug.

“AfriForum Jeug eis ’n antwoord in verband met al drie bogenoemde eise teen 30 April 2021, anders sal ons die saak moet eskaleer omdat die UK dan steeds hierdie onaanvaarbare gedrag en uitlatings beskerm en toelaat,” sluit Pieters af.

Foto: Facebook

Soortgelyke plasings