|

AfriForum lê eerste klagtes oor Covid-korrupsie wat miljarde beloop

Deur Alet Rademeyer

Terwyl die ANC nog steier en probeer sin maak oor hoe hy meer as R2,2 miljard se bedrog met Covid-19-fondse in die Gautengse regering gaan pak, het AfriForum vandag strafregtelike klagtes teen die Johannesburg-metro ingedien.

Dit kom nadat ’n interne ouditverslag van dié stadsraad aan AfriForum se Privaatvervolgingseenheid gestuur is. Die klagtes teen individue en verskaffers is by die Lyttelton-polisiestasie ingedien.

Volgens Monique Taute, hoof van AfriForum se Teenkorrupsie-eenheid, het die Johannesburg-metro van 15 tot 31 Maart 2020 sowat R80 miljoen onregmatig bestee.

Verskeie maatskappye, waarvan een byvoorbeeld in voertuigremme spesialiseer, het glo in die tydperk betaling ontvang vir die verskaffing van mediese noodtoerusting. ’n Ingenieursmaatskappy het ook na bewering R3,5 miljoen gekry vir diepreiniging en sanitasie. ’n Maatskappy wat in binnenshuise versiering en argitektuur spesialiseer het na bewering ook R4,6 miljoen vir diepreiniging en sanitasie ontvang. Twee maatskappye met dieselfde adres en kontaknommers het ook kwotasies vir dienste ingedien waarvoor albei later betalings ontvang het.

“Dit is verstommend dat die Johannesburg-metro ondanks prima facie-bewyse nog steeds geen strafregtelike stappe teen individue en geïmpliseerde partye in die stadsraad geneem het nie. Pres. Cyril Ramaphosa se beloftes dat daar teen diegene wat korrupsie pleeg opgetree sal word, het tot op hede nog niks opgelewer nie. AfriForum sal voortgaan om skuldiges en oortreders aan die pen te laat ry,” sê Taute.

 

 

 

 

Soortgelyke plasings