|

AfriForum lê klagte teen Tokologo-munisipaliteit by MRK oor Hertzogville-waterkrisis

AfriForum het op 29 Augustus die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) verkla, omdat heelwat inwoners van Hertzogville al vir ongeveer drie maande sonder water sit.

AfriForum het reeds op 6 Augustus die Tokologo-munisipaliteit op terme geplaas nadat die gemeenskap die organisasie om hulp genader het weens groot dele van Hertzogville wat toe al vir meer as 60 dae watertekorte ondervind het. AfriForum het ook op 4 Julie ’n brief aan die munisipaliteit gerig waarin versoek word om hierdie waterprobleem op te los.

Nadat geen terugvoer van die munisipaliteit op beide hierdie skrywes ontvang is nie, het AfriForum die waterkrisis in Hertzogville by die SAMRK aangemeld. Die skrywes is ook aan die premier van die Vrystaat, wat ook nie daarop gereageer het nie, gestuur.

Die Tokologo-munisipaliteit is tans besig met die installasie van nuwe waterpompe. Luidens munisipale kommunikasie aan inwoners sal die nuwe pompe na verwagting op 4 September inwerking tree en water aan inwoners verskaf. AfriForum het tot dusver egter ook geen kommunikasie van die munisipaliteit hieroor ontvang nie.

“Die Tokologo-munisipaliteit versuim om sy plig om basiese dienste aan die inwoners van Hertzogville te lewer, na te kom. Inwoners word gedwing om alternatiewe oplossings te soek om water te kry, terwyl die munisipaliteit se watertrok net sekere dele van die dorp van water voorsien. Nie almal het boorgate nie en omliggende boere kon ook nie meer voortgaan om water aan die dorp te voorsien nie, omdat dit te duur is. AfriForum sal aanhou om druk op die munisipaliteit toe te pas om te verseker dat die waterprobleem spoedig opgelos word. Water is ’n basiese reg – dit is onaanvaarbaar dat ’n gemeenskap vir so lank sonder water moet klaarkom,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

AfriForum moniteer die situasie en sal verdere stappe oorweeg indien die watertoevoer nie op 4 September na alle inwoners van Hertzogville herstel is nie.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke en help om probleme in jou omgewing op te los. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings