AfriForum lê strafregtelike klagtes teen Shaun Abrahams


Die burgerregte-organisasie AfriForum en gen. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, wat vermoedelik onregmatig deur Nomgcobo Jiba geskors is, het vandag strafregtelike klagtes van meineed en regsverydeling teen Shaun Abrahams, die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), ingedien.
Dít volg nadat die Noord-Gautengse hoë hof – in die saak oor Abrahams se onttrekking van die aanklagte teen sy adjunk, Nomgcobo Jiba – bevind het dat die weergawes van Abrahams en Marshall Mokgathle (streekshoof van die misdaadeenheid teen gespesialiseerde kommersiële misdade) in hul onderskeie beëdigde verklarings aan integriteit ontbreek. Die hof het ook bevind dat dit Abrahams was wat die aanklagte teen Jiba op aanbeveling van Mokgathle onttrek het. Dit was ook die hof se mening dat Abrahams en Mokgathle se weergawes ernstige vrae oor geloofwaardig laat ontstaan, en ook dat die verduideliking vir die onttrekking wat deur Abrahams verskaf is en deur Mokgathle ondersteun was “bisar in die ekstreme” is.

“Sowel Abrahams as Mokgathle het daarom ’n oortreding luidens Artikel 9 van die Wet op Vrederegters en Kommissarisse van Ede (Wet no. 16 van 1936) gepleeg, wat bepaal dat enige persoon wat in ’n beëdigde verklaring – afgelê voor ’n persoon wat bevoeg is om ’n bevestigingseed af te neem – ’n onwaar verklaring maak, wetend dat dit onwaar is, skuldig sal wees aan ’n oortreding en met skuldigbevinding tot die wetlike straf vir meineed gevonnis kan word,” sê Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid.

Booysen sê: “Die onwettige of irrasionele onttrekking van klagtes kan ná verdere ondersoek tot ’n vonnis vir regsverydeling lei.”
Taute sluit af dat dit duidelik is dat Abrahams nie geskik of gepas is om in sy pos te wees nie.

“AfriForum doen ’n beroep op president Cyril Ramaphosa om Abrahams sonder verwyl af te dank en ’n nuwe NDOV aan te stel wat sonder vrees, guns of vooroordeel sal optree.”

Soortgelyke plasings