|

AfriForum se Vanderbijlpark-buurtwag beveilig gemeenskap in Julie

Die buurtwag van AfriForum se Vanderbijlpark-tak het die afgelope maand verskeie aksies van stapel gestuur om die gemeenskap te beveilig.

Die Vanderbijlpark-buurtwag het op 21 Julie 2019 hul maandelikse patrollie by die plaaslike begraafplaas gehou sodat die gemeenskap hul geliefdes se grafte veilig kon besoek.

“Die begraafplaaspatrollie is een van vele volhoubare aksies wat die AfriForum-tak in Vanderbijlpark geloods het om die gemeenskap te ondersteun. Die tak moedig die gemeenskap aan om in enige hoedanigheid betrokke te raak by instansies wat die welvaart van die gemeenskap bevorder,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Wes-Rand.

Op 26 Julie 2019 het die Vanderbijlpark-buurtwag ’n klopjag in samewerking met die SAPD en ander buurtwagte uitgevoer. Tydens dié klopjag is woongebiede en nagklubs deursoek, waarna ’n aantal individue na die polisiestasie geneem is vir verdere ondervraging. Altesaam 80 mense het aan die klopjag deelgeneem en die operasie was ’n groot sukses om sigbaarheid in die omgewing op te skerp.

“Ons is trots om deel te wees van aksies wat ons gemeenskap ophef en ons inwoners se veiligheid bevorder,” sê Butch Blignault, voorsitter van AfriForum se Vanderbijlpark-tak.

Sluit vandag nog by AfriForum se Vanderbijlpark-tak aan: Stuur ’n e-pos na afriforumvdb@gmail.com.

Soortgelyke plasings