|

AfriForum neem voortou met skoonmaak van Voortrekkerstraat in Coligny

Gedurende Mei het die AfriForum-tak in Coligny voortgegaan met sy volhoubare skoonmaakprojek in Voortrekkerstraat waartydens daar elke werksdag tussen twee en vier vragte rommel en tuinvullis weggery is. Die pad is gevee, rommel is opgetel en die middelmannetjies is geskoffel.

“Ons is trots op ons dorp; hy mag dalk klein wees maar ons inwoners se harte is groot. Ons onderhou hierdie straat en sal aanhou om dit te doen,” sê Frans Gerber, ondervoorsitter van AfriForum se Coligny-tak.

Luidens Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico, is dit belangrik om ’n straat skoon en netjies te hou omdat dit die lewenskwaliteit van die gemeenskap beïnvloed. “’n Skoon straat skep ’n aangename omgewing vir inwoners, terwyl dit ook ’n positiewe indruk op besoekers en toeriste maak. Daarbenewens dra ’n skoon en netjiese straat by tot ’n gesonde en veilige omgewing vir almal wat dit gebruik. Daarom is ons trots daarop dat die Coligny-tak die inisiatief geneem het om hierdie projek volhoubaar te dryf.”

AfriForum wil graag ’n groter verskil in die gemeenskap maak en moedig inwoners aan om betrokke te raak. Sluit vandag nog by AfriForum se Coligny-tak aan deur vir Tewie Pieters by 078 611 2214 te skakel.

Soortgelyke plasings