AfriForum: Onafhanklike kandidate verdien regverdige verteenwoordiging

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag kommentaar by die parlementêre portefeuljekomitee vir binnelandse sake ingedien op die Wetsontwerp op Verkiesingstelselhervorming . Die wysiging verander die definisie van “politieke” party om ook individue in te sluit, en stel ’n stelsel voor oor hoe onafhanklike kandidate verkies kan word. AfriForum verwelkom in beginsel die instelling van ’n sisteem wat onafhanklike kandidate in staat stel om vir plaaslike en nasionale verkiesings te staan.

Waar die huidige wetsontwerp egter fundamenteel tekort skiet, is dat individue wat as onafhanklike kandidate staan, slegs een setel toegeken kan word, ongeag die hoeveelheid stemme wat ontvang word. Hipoteties beteken dit dus dat ’n onafhanklike individu dieselfde hoeveelheid stemme as ’n politieke party met ’n groot aantal setels kan ontvang, maar steeds net een setel toegeken sal word. Teen hierdie agtergrond, steun AfriForum nie die implimentering van die wetsontwerp in die huidige vorm nie en versoek die burgerregteorganisasie die wetgewer om die wetgewing in ooreenstemming met die kommentaar te wysig.

“Die grondbeginsel van verteenwoordigende demokrasie is dat geen stemme gemors word nie en dat die mate van politieke ondersteuning in die toegekende hoeveelheid setels gereflekteer word. Dit is onregverdig dat onafhanklike kandidate, wat groot hoeveelhede stemme ontvang, nie ’n dienooreenkomstige aantal setels sal ontvang nie. Die implimentering van die wetsontwerp in die huidige formaat sal verteenwoordigende demokrasie in hierdie land afwater,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Soortgelyke plasings