|

AfriForum se teenboelieveldtogspan bied selfdoodbewusmakingspraatjie by Hoërskool Oudtshoorn aan

AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 26 Oktober 2021 as deel van die organisasie se #VegEnBou-week in George besoek afgelê by Hoërskool Oudtshoorn om ’n selfdoodbewusmakingspraatjie te lewer.

Dié betrokke praatjie handel oor die sensitiewe onderwerp van selfdood asook die voorkoming daarvan. Besprekingspunte sluit in: waarskuwingstekens, statistieke, waarom mense selfdood pleeg, hoe om met iemand te praat wat selfdood oorweeg en hoe om iemand te help wat selfdoodneigings het. Die praatjie word afgesluit deur ’n uitnodiging te maak aan onderwysers en beheerliggaamlede om ’n selfdoodvoorkomingsnetwerk te stig in die dorp.

“Die jeug is ons toekoms. Dis vir AfriForum ’n groot voorreg om hierdie inisiatief aan te pak en ’n praatjie aan te bied wat ’n verskil maak. Ons bemagtig die jeug, ons bring hoop en ons maak ’n verskil in die lewens van ons jongmense, dis ’n groot voorreg maar ook ’n groot verantwoordelikheid,” sê Gerhard Nieuwoudt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

“Selfdood is ’n baie sensitiewe onderwerp en ook die rede waarom dit nie genoeg bespreek word nie. AfriForum se hoofdoel met hierdie praatjie is om tieners en onderwysers te bemagtig met die nodige inligting om proaktief te kan optree en waarskuwingstekens raak te sien. Die besoek by Hoërskool Oudtshoorn was baie suksesvol en kinders sowel as onderwysers het AfriForum bedank dat ons die moeilike onderwerp so mooi kon oordra,” sluit Nieuwoudt af.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery en selfdood in skole hok te slaan. Op hierdie manier kan veilige gemeenskappe verseker word, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Die teenboelie-en selfdoodbewusmakingsveldtog wil kinders toerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees, asook om hulle te bemagtig met die nodige bewusmaking van selfdood,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

Elke jaar pleeg ongeveer een miljoen mense selfdood. Wêreldwyd sterf daar elke 40 sekondes iemand as gevolg van selfdood.. Selfdood is die tweede hoofoorsaak van sterftes in die ouderdomsgroep 5 – 19 jaar. Suid-Afrika se beraamde selfdoodsyfer van 13,4 mense per 100 000 is ongeveer vier keer die wêreldkoers van 3,6 per 100 000. Elke dood is ’n tragedie vir familie, vriende en kollegas. Tog kan selfdood voorkom word. AfriForum doen ’n beroep op die Suid-Afrikaanse regering om bewese selfdoodvoorkomingstrategieë op ’n volhoubare wyse in die nasionale gesondheids- en opvoedingsprogramme op te neem. Selfdoodvoorkoming en -intervensie is noodsaaklik binne enige geestesgesondheidsprogram en dit moet ’n hele skoolbenadering behels wat bewusmaking en opleiding vir personeel en leerlinge insluit.

Dit is oukei om nie oukei te wees nie. Daar is ’n uitweg, daar is hoop. Daar is hulp beskikbaar. Hoe meer ons openlik oor selfdood praat, hoe makliker en vinniger gaan ons die stigma rondom selfdood vernietig.

Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings