|

AfriForum gedenk gevalle soldate met rooi papawers

Lede van AfriForum se gemeenskapsveiligheidspan het vandag, soos miljoene mense regoor die wêreld, rooi papawerlapelwapentjies aan hul hemde gedra om gesneuwelde soldate te gedenk.

Dié tradisie het sy ontstaan tydens die Eerste Wêreldoorlog waar daar om 11:00 op 11 November 1918 op ’n wapenstilstand ooreengekom is.

“Op die 11de November elke jaar om 11:00 regoor die wêreld word Wapenstilstanddag-seremonies en -parades gehou. Die papawerblom is deel van die parade en word deur mense gebruik as ’n simbool om te onthou en eer te gee aan diegene in die oorlog wat die hoogste prys betaal het,” sê Raymond Hohls, operasionele bestuurder by AfriForum se Gemeenskapsveiligheid.

’n Verslane Duitsland het op 11 November 1918 vir ’n wapenstilstand met die Geallieerdes in ’n treinwa neffens Compiègne, Frankryk, onderhandel. Dit het om 11:00 daardie dag in werking getree, maar die oorlog is eers amptelik op 28 Junie 1919 met die verdrag van Versailles beëindig.

Een van die laaste soldate wat tydens hierdie oorlog sy lewe verloor het, was George Price (25), ’n Kanadese voetsoldaat. Daar is verskillende weergawes oor sy dood. Dié een lui dat hy om 10:58 op 11 November 1918 met ’n bos blomme in sy hand doodgeskiet is. Hy het die blomme by ’n gesin in Havré, België, gekry wat hom wou bedank vir die Geallieerdes se oorname van die dorpie.

Die afvuur van die kanon op Seinheuwel in Kaapstad kom al van 1806 af toe die Britte die Kaap by die Nederlanders oorgeneem het. Op 14 Mei 1918 het die Kaapstadse burgemeester Harry Hands met die idee vorendag gekom om ’n drie minute stilte ná die afvuur van die kanon in te stel om die gevalle soldate in die oorlog te onthou. Dis later na twee minute verminder en is daagliks tot op 18 Desember van daardie jaar gedoen.

Die idee is later aan die Britse Koning voorgestel en het ’n instelling in groot gedeeltes van die destydse Britse Ryk geword. Vlaandere in België met sy velde vol papawers is die oorsprong van die blommetjies wat vandag nog gedra word.

“Ons het besluit om die tradisie by AfriForum voort te sit om ons soldate wat onder meer tydens die twee wêreldoorloë en die Grensoorlog hul lewens verloor het te onthou,” sê Jan Wessels, hoof van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum. “Daar was soldate onder my bevel wat die hoogste prys betaal het en hierdie is ’n saak wat my na aan die hart lê.”

Soortgelyke plasings