AfriForum onthul: Belastingbetalers dok meer as R1,3 miljoen op vir “superaanhangers” se besoek aan rugbywêreldbekertoernooi in Frankryk

Belastingbetalers het minstens R1,3 miljoen opgedok vir die sogenaamde “superaanhangers” Mama Joy Chauke en Botha Msila se reis en verblyf tydens verlede jaar se rugbywêreldbekertoernooi in Frankryk. Dié inligting is vervat in terugvoer wat die burgerregteorganisasie AfriForum vandag, na aanleiding van ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA), van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur ontvang het.  

AfriForum het die PAIA-aansoek in Oktober verlede jaar gebring en gedetailleerde state van en dokumentasie oor die uitgawes met betrekking tot die departement se borgskap vir Chauke en Msila se bywoning van die 2023-toernooi aangevra. Hoewel sekere aangevraagde inligting in die terugvoer aan AfriForum ontbreek, toon dit wel dat die departement ’n totaal van R1 361 283 bestee het aan vlugte en verblyf vir dié twee aanhangers. AfriForum se navrae rakende Chauke en Msila se spandering tydens die toernooi is ook nog nie beantwoord nie.

Daarbenewens het die departement ook nie inligting verskaf oor die uitgawes wat aangegaan is vir dié aanhangers se bywoning aan ander soortgelyke sportgeleenthede nie. AfriForum het ook in sy PAIA-aansoek inligting rakende die meriete van Chauke en Msila se aanstelling aangevra, maar die departement het ook hierdie inligting weerhou. 

AfriForum het intussen sy regspan opdrag gegee om ’n klag by die Inligtingsreguleerder (IR) in te dien om die departement te dwing om die volledige inligting en uitgawestate rakende “superaanhangers” van die afgelope tien jaar aan AfriForum te oorhandig. ’n Formele klag sal ook by die Openbare Beskermer (OB) gelê word oor die Departement van Sport, Kuns en Kultuur se wanaanwending van geld.  

Charné Mostert, AfriForum-veldtogbeampte, sê: “Polities verbonde individue kan oënskynlik in luuksheid leef op belastingbetalers se rekening, terwyl miljoene Suid-Afrikaners in armoede gedompel is. AfriForum sal deur die IR en OB toesien dat die departement antwoorde gee op hierdie wanaanwending van geld. Dié roekelose vermorsing van geld deur die ANC-regering skets ’n donker politieke prentjie.”   

“Die bedrag wat net aan vlugte en verblyf bestee is, is veel meer as wat talle Suid-Afrikaners per jaar verdien. AfriForum sal nie net toesien dat hierdie ongerymdhede aan die kaak gestel word nie, maar ook dat daar gevolge vir hierdie optrede sal wees,” sluit Mostert af.

Soortgelyke plasings