|

AfriForum staan aan die kant van wet en orde; bevraagteken selektiewe vervolging en dubbele standaarde in Groblersdal

Na aanleiding van die gebeure op Groblersdal die afgelope paar weke, verwerp AfriForum die optrede van enige organisasie of individu wat chaos in die gemeenskap saai. AfriForum is egter terselfdertyd sterk gekant teen die duidelike dubbele standaarde en selektiewe vervolging wat tans hier plaasvind.

Politieke partye, soos die ANC en EFF, poog om die gespanne situasie wat in Groblersdal heers, opportunisties uit te buit en te eskaleer in aanloop tot die 2024-verkiesing om goedkoop politieke myle daaruit te haal. Daar is ’n onmiskenbare poging om die gemeenskap te destabiliseer. AfriForum se veiligheidsverteenwoordigers in Groblersdal is in besit van beeldmateriaal van betogers wat in die openbaar alkohol verbruik, en van busse waarmee duisende betogers van buite die gemeenskap af aangery is. AfriForum-verteenwoordigers moes gister ’n situasie ontlont waar betogers beweer het hulle is opdrag gegee om spesifieke sakeondernemings te teiken.

Dit is egter kommerwekkend dat dat slegs betogers ter ondersteuning van die beskuldigdes tans vervolg word, terwyl opswepers en wetteloses aan die ANC- en EFF-kant oënskynlik vervolging vryspring.

Volgens Llewelynn Hemmens, AfriForum se hoof van Veiligheid vir die Noordstreek, is AfriForum vierkantig aan die kant van wet en orde. ’n Noodsaaklike aspek van wet en orde is egter dat die wet konsekwent toegepas moet word. AfriForum se topprioriteit is om die Groblersdal-gemeenskap te beveilig en om te verseker dat die gespanne situasie nie verder eskaleer nie.

“Diegene wat die wet oortree, geweld en wetteloosheid aanhits en chaos saai in die gemeenskap moet konsekwent vervolg word. Dubbele standaarde is onverdedigbaar en eskaleer die spanning net verder,” sê Hemmens.

“AfriForum se gemeenskapsveiligheidstrukture is reeds sedert verlede week in Groblersdal om die veiligheid van die gemeenskap hier te verseker en om moontlike kwesbare teikens van destabilisering, soos skole, aftreeoorde en lede van die gemeenskap, te beskerm. AfriForum is ook besig om ’n permanente buurtwag in Groblersdal te stig om ’n groter stabiliserende rol in dié gemeenskap te speel,” sluit Hemmens af.   

Soortgelyke plasings