|

Laerskool Wonderboom-Suid trek volle wapenrusting van God aan om boeliegedrag te stuit

AfriForum se teenboelieveldtogspan het onlangs die leerders van Laerskool Wonderboom-Suid in Pretoria gewys hoe hulle die volle wapenrusting van God kan aantrek om boeliegedrag in sy spore te stuit. Die burgerregteorganisasie het op 8 Maart dié laerskool saam met Matteus, AfriForum se teenboelieveldtog-maskot, besoek om bewusmaking oor afknouery in skole te skep.

Die leerders van dié laerskool is geleer hoe om die volle wapenrusting van God aan te trek om hulself te beskerm, en selfs hul boelies te help. Slagoffers van afknouery én boelies kan onder andere die helm van verlossing aantrek om te waak teen negatiewe denke oor hulself en ander.

“Danksy Matteus se lesse weet elke leerder van Laerskool Wonderboom-Suid ook nou hoe om boeliegedrag te identifiseer en stop te sit,” sê Tania Scheepers, AfriForum se projekassistent vir Onderwys.

AfriForum bemagtig leerders landwyd met dié teenboelieveldtog deur hoop te skep en kinders aan te moedig om mekaar met die nodige wedersydse erkenning en respek te hanteer. Die burgerregteorganisasie het oor die afgelope sewe jaar 172 skole, 133 000 leerders, 6 000 onderwysers en 2 000 ouers oor die hele land heen oor afknouery en die impak daarvan toegespreek.

“Veilige skole sorg vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms, daarom is bewusmaking oor boeliegedrag uiters belangrik,” sê Scheepers.

Kinders wat daagliks voor boelies te staan kom, toon verskeie tekens dat hulle slagoffers van afknouery is. Dit sluit onder meer in dat hulle onwillig is om skool toe te gaan en akademies swak presteer.

Ander tekens sluit in:

  • onverklaarbare beserings soos kneusplekke, snye en krapmerke
  • ’n vrees om skool toe te gaan, om skool toe te ry met die skoolbus, of om skool toe of huis toe te loop
  • verskonings oor hoekom hulle nie skool toe kan gaan nie
  • verlies aan eetlus of verandering in eetgewoontes
  • vernielde of verlore skoolboeke, klere of elektroniese toestelle
  • gereelde klagtes oor maagpyn, hoofpyn of naarheid

“Hierdie veldtog maak ’n positiewe bydrae tot die veiligheid van gemeenskappe deur die boompies te buig terwyl hulle nog jonk is – die jeug is immers ons toekoms,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir Jeugleierskap.

Evert Grové, ’n onderwyser by Laerskool Wonderboom-Suid, sê deur leerders toe te rus met vaardighede om boeliegedrag hok te slaan, kan elke skool in die land ’n plek van veiligheid word waar kinders wil wees om te leer.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog en om die teenboelie- en kuberboeliegids gratis af te laai, besoek www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings