| |

AfriForum-plaaswagte slaggereed om op noodsituasies te reageer

Die AfriForum-plaaswagte in die George-omgewing het onlangs ’n inoefening van ’n plaasaanval-scenario gehou. Gedurende die oefening het die Herold-, Hoekwil- en Geelhoutboom-plaaswagte saamgewerk om op ’n gesimuleerde noodsituasie te reageer.

Dié oefening is deel van die praktiese opleiding vir plaas- en buurtwagte sodat hulle tydens ’n plaasaanval doeltreffend, georganiseerd en gedissiplineerd kan optree.

Die plaaswagte moes tydens die inoefening op ’n “plaasaanval” reageer, die huis beveilig en die slagoffers, wat ook “gewondes” ingesluit het, ondersteun.

“Ons weet ons kan nie noodwendig insidente voorkom nie, maar hierdeur kan ons leer hoe om dit beter te hanteer. Ons beplan om gereeld verskillende scenario’s te simuleer sodat ons voorbereid is en doeltreffend kan op te tree om slagoffers uit die noodsituasie te verwyder, asook die toneel klinies aan die owerhede te oorhandig,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Raak vandag nog betrokke by jou naaste plaaswag en beveilig jou gemeenskap. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel hom by 081 216 9602.

Soortgelyke plasings