AfriForum plant bome in Knysna


AfriForum het op Saterdag, 23 September 2017 in samewerking met Gaan Groen Knysna begin om inheemse bome, waaronder die Cape Ash, Waterbessie en die Outeniqua-geelhout, in die Pledge Natuurreservaat te plant.
Volgens Chris Boshoff, AfriForum se omgewingsakekoördineerder, vorm dié projek deel van ’n langtermyninisiatief om Knysna na afloop van die verwoestende brande in Junie vanjaar te rehabiliteer.

“As gevolg van waterbeperkings het ons besluit om met 10 bome te begin. Ons het verder op inheemse bome besluit, onder meer omdat hulle vinniger groei en dus ’n groter impak in ’n korter tydperk sal maak. Ons beoog egter om voor die einde van die maand nog bome hier te plant.”

Boshoff sê voorts dat AfriForum ook ’n 2500 liter-watertenk aan die reservaat geskenk het omdat baie van hulle eie infrastruktuur vernietig is.

“Die natuurreservaat is weens verskeie redes ’n goeie beginpunt om Knysna se ekosisteem weer op die been te kry,” sê Johandré van Zyl, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Suid-Kaap.

AfriForum het onlangs ook ’n fondsinsamelingskompetisie vir skole in die omgewing gehad. ’n Nuwe boom is na elk van die drie wenskole vernoem, naamlik Outeniqua Primêr, Meerendal Pre-primary en Eduplay.
AfriForum wil graag die betrokke rolspelers bedank wat gehelp het om die projek moontlik te maak, waaronder Flora RSA-kwekery, Everybody Love Everybody, Norgarivier-kwekery, Gardenworld-Krugersdorp en Cape Garden Centre.
 

Soortgelyke plasings