|

AfriForum raai Gautengse ouers aan: Registreer kinders so gou as moontlik vir graad 1 of 8 vanaf 11 Julie 2024

Die burgerregteorganisasie AfriForum raai ouers en voogde wat hulle kinders in Gautengse skole vir graad 1 of 8 wil inskryf vir 2025, aan om daarvan kennis te neem dat die aanlyn registrasieproses môre, 11 Julie 2024, om 08:00 open. Dié tydperk loop op 12 Augustus 2024 om middernag ten einde, wat beteken dat ouers slegs ’n maand tyd het om hul kinders in te skryf. AfriForum moedig ouers dus aan om so gou as moontlik hierdie registrasieproses af te handel om te verseker dat hul kinders in die skool van hul keuse geplaas word.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, vind aansoeke vir plasing in Gautengse skole vanjaar andermaal slegs aanlyn op die Gautengse Onderwysdepartement se webwerf (www.gdeadmissions.gov.za) plaas. Dokumente wat vereis gaan word, is:

  • die ouer se Suid-Afrikaanse ID of paspoort
  • die kind se geboortesertifikaat
  • bewys van woonadres
  • bewys van die ouer se werksadres
  • vir leerders wat na graad 8 moet gaan, hulle mees onlangse graad 7-rapport
  • vir leerders wat na graad 1 moet gaan, hulle kliniek- of immunisasiebewys

Vir ouers of kinders wat nie Suid-Afrikaanse burgers is nie, geld meer vereistes wat op die Gautengse Onderwysdepartement se webtuiste uiteengesit word.

Ouers moet verseker dat hulle hul regte kontakbesonderhede gee en dat die selnommer wat hulle verskaf, deurentyd aktief bly tot hulle bevestiging ontvang het dat hulle kinders geplaas is. Dit behoort vanaf 16 September 2024 te geskied. Ouers met kinders in graad R moet nie aanvaar dat hulle kinders outomaties in graad 1 by dieselfde skool geplaas sal word nie – hulle moet steeds aansoek doen soos enige ander ouer.

Bailey herinner dat die vereiste dokumente binne sewe dae nadat die aanlyn aansoek ingedien is, aanlyn in gekompakteerde formaat, of by die skool van hulle keuse ingehandig moet word. As die dokumente nie binne ’n week ingedien word nie, sal die aansoek verval.

Plasings sal soos genoem van 16 September plaasvind en SMS’e aangaande die plasingsaanbod kan enige tyd vanaf dié datum verwag word. Ouers moet so gou as moontlik reageer wanneer hulle ’n SMS ontvang met inligting oor waar die kind geplaas is.

Die Gautengse Onderwysdepartement sal volledige riglyne oor die aansoekproses deur hulle mediakanale bekendmaak. ’n Video met volledige inligting is onder meer ook by https://youtu.be/HPEAxhi-DWM beskikbaar.

Ouers wat vanaf 11 Julie probleme met die stelsel ervaar, kan AfriForum by onderwys@afriforum.co.za om advies nader.

“Dit is algemeen bekend dat daar te min skole in Gauteng is en die Gautengse Onderwysdepartement kan direk daarvoor geblameer word. Om dié rede is dit noodsaaklik dat kinders vinnig ingeskryf moet word. AfriForum wil ouers ook weer herinner aan die vele voordele wat moedertaalonderrig inhou. Hulle moet dit in gedagte hou wanneer hulle ’n besluit maak oor die skool waarby hulle hul kinders wil inskryf,” beklemtoon Bailey.

Soortgelyke plasings