|

AfriForum raai ouers aan om kinders so gou moontlik vanaf 15 Junie vir graad 1 of 8 in Gauteng te registreer

Ouers en voogde wat hul kinders vir graad 1 of 8 wil inskryf in Gautengse skole vir 2024 moet daarvan kennis neem dat die aanlyn registrasieproses op 15 Junie 2023 om 08:00 open. Dié tydperk loop op 14 Julie 2023 om middernag ten einde, wat beteken dat ouers slegs ’n maand het om hul kinders in te skryf. AfriForum moedig ouers dus aan om so gou moontlik hierdie registrasieproses af te handel om te verseker dat hul kinders in die skool van hul keuse geplaas word.

Aansoeke vir plasing in Gautengse skole vind vanjaar andermaal slegs aanlyn op die Gautengse Departement van Basiese Onderwys se webwerf (www.gdeadmisions.gov.za) plaas. Tydens ’n mediakonferensie oor dié proses, het die Gautengse LUR van Onderwys, Matome Chiloane, die versekering gegee dat die stelsel sedert 2022 verbeter is om meer kapasiteit te bied om ’n groot aantal aansoeke gelyktydig te hanteer. Die belangrikste aspekte wat deur Chiloane genoem is, is dat ouers moet verseker dat hulle hul regte kontakbesonderhede gee en dat die selnommer wat hulle verskaf, deurentyd aktief bly tot hulle bevestiging ontvang het dat hul kinders geplaas is. Hy het gewaarsku dat ouers met kinders in graad R nie moet aanvaar dat hul kinders outomaties in graad 1 by dieselfde skool geplaas sal word nie – hulle moet steeds aansoek doen soos enige ander ouer.

Die vereiste dokumente moet binne sewe dae nadat die aanlyn aansoek ingedien is, aanlyn in gekompakteerde formaat, of by die skool van hulle keuse ingehandig word. As die dokumente nie binne ’n week ingedien word nie, sal die aansoek verval.

Plasings sal van 4 September plaasvind en SMS’e aangaande die plasingsaanbod kan enige tyd vanaf dié datum verwag word. Chiloane het ouers aangemoedig om so gou as moontlik te reageer as hulle ’n SMS ontvang met inligting oor waar die kind geplaas is.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit verblydend dat aansoekers vir beide graad 1 en 8 ’n keuse vir onderrigtaal kan uitoefen en graad 8-aansoekers ook vir ’n addisionele taal. “Chiloane se antwoord op ’n vraag uit die gehoor dat die departement wil sien dat enkelmedium Afrikaanse skole dubbel- of parallelmedium onderrig moet aanbied, is wel uiters problematies en enige stappe om die skole in dié rigting te dwing, sal deur AfriForum teengestaan word,” sê Bailey.

’n Belangrike verbetering van die proses, is dat daar vanjaar slegs een aansoekproses is. In 2022 is kinders in openbare skole eerste toegelaat om aansoek te doen, en kinders buite die openbare sisteem, eers later. Vanjaar kan alle aansoekers gelyktydig aansoeke indien, wat veel meer regverdig is. Dit is ook welkom dat die skool waarin sibbe van die aansoeker is en ouers se werkadres, benewens die woonadres, ook vir plasing in skole oorweeg sal word. ’n Keuse kan vir drie tot vyf skole uitgeoefen word, met voorkeur in die eerste drie keuses vir ouers of voogde se woonadres.

Die LUR se waarskuwing dat skole eers aansoek moet doen vir goedkeuring as ruimtes in skole vir spesiale dienste aangewend word (in plaas daarvan dat dit as klaskamers gebruik word), is na Bailey se mening ook kommerwekkend. In die verlede het die departement pogings aangewend om kinders in vol skole in te forseer omdat ruimtes soos laboratoriums en biblioteke as klaskamers beskou is. AfriForum sal ook in dié verband verseker dat in die belang van skole en leerders opgetree word.

Die Gautengse onderwysdepartement sal volledige riglyne oor die aansoekproses deur hulle mediakanale bekendmaak. ’n Video met volledige inligting is onder meer ook op die departement se toepassing beskikbaar. AfriForum sal aanvullende riglyne saamstel om ouers wat hulle kinders vir hierdie grade wil inskryf, by te staan. Ouers wat vanaf 15 Junie probleme met die stelsel ervaar, kan AfriForum by onderwys@afriforum.co.za om advies nader.

“Dit is algemeen bekend dat daar te min skole in Gauteng is en hierdie probleem moet voor die deur van die Gautengse Departement van Basiese Onderwys gelê word. Chiloane het genoem dat meer skole gebou gaan word om hierdie tekort te takel, maar het nie uitgebrei oor hoeveel aanvullende skole in 2024 gereed sal wees nie. Om dié rede is dit noodsaaklik dat kinders vinnig ingeskryf moet word. AfriForum wil ouers ook weer herinner aan die reuse-voordele wat moedertaalonderrig inhou. Hulle moet dit in gedagte hou wanneer hulle ’n besluit maak oor die skool waarby hulle hul kinders wil inskryf,” beklemtoon Bailey.

Soortgelyke plasings