|

AfriForum Sakenetwerk vier Moedertaaldag met agtste Tinteltong Toekenningsaand

AfriForum Sakenetwerk se Tinteltong Toekennings is gisteraand tydens ’n spoggeleentheid by Kapstadt Brauhaus in Menlopark, Pretoria aangebied. Internasionale Moedertaaldag is behoorlik tydens hierdie geleentheid gevier saam met meer as 50 ondernemings en nagenoeg 200 gaste.

Die Tinteltong Toekennings is ’n jaarlikse spoggeleentheid wat gewoonlik saam met Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie gevier word. Tydens hierdie geleentheid word ondernemings beloon en bedank vir die bydrae wat hulle lewer om Afrikaans as saketaal te bevorder. Hierdie toekenningsaand is vanjaar vir die agtste keer aangebied.

“Ons het hierdie jaar bietjie anders aangepak. Waar ons gewoonlik tien ondernemings oor verskeie kategorieë bekroon met ’n Tinteltong Toekenning, het ons hierdie jaar vir Bartho en Suné Eksteen met ’n ere-Tinteltong Toekenning bekroon. Verder het ondernemings wat die geleentheid bygewoon het ’n herdenking gekry wat hulle daagliks daaraan gaan herinner dat hulle ’n verskil maak aan Afrikaans as saketaal,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.

Van der Walt sê dat dit ’n riem onder die Sakenetwerkspan se hart is om te sien hoe lekker ondernemings kuier wanneer hulle bymekaar gebring word. Een van AfriForum Sakenetwerk se mikpunte is juis om ondernemings te dien, bymekaar te bring en erkenning te gee aan die verskil wat hulle in hul gemeenskappe maak.

Bartho Eksteen, wat ook die spreker was by die geleentheid, het beaam dat Afrikaans baie goed ingespan kan word as bron van inkomste – dis ’n nismark waarvan toeriste nie genoeg kan kry nie. “Ek het nooit daaraan gedink om vereer te word nie. Afrikaans is ’n hartsaak vir my. Ek praat die taal soos ek hom geleer het. Ek is ’n ou vir emosies, tradisies en sentimente. Ek kan nie aan ’n beter plek dink waar ek die toekenning kon ontvang het as in Pretoria nie,” het Eksteen tydens sy toespraak gesê.

AfriForum Sakenetwerk nooi die publiek uit om hulle gunsteling-Afrikaanse ondernemings se besonderhede te stuur na netwerk@afriforum.co.za om in 2024 in aanmerking te kom vir ’n Tinteltong Toekenning.

Registreer jou onderneming vandag nog op www.afriforumsakenetwerk.co.za: AfriForum Sakenetwerk – waar lede mekaar ondersteun.

Soortgelyke plasings