AfriForum se Bethal-tak laat nie gras onder hulle voete groei nie

AfriForum se Bethal-tak het gedurende die feestyd verskeie projekte aangepak. ’n Groot straatnaamprojek is die 9de Januarie afgehandel waartydens ’n komp strate se name nuut geverf is.

“Die projek is aangepak om die prag van die dorp te herstel, maar ook omdat nooddienste sukkel om adresse op te spoor as die straatname so onduidelik is,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld. “Die projek sal deur die loop van 2020 voortgesit word om straatname in ander dele van die dorp ook te herstel.”

Die tak is ook besig met grassnyprojekte – die plaaslike polisiestasie en die N17-hoofweg se gras is reeds hierdie week gesny.

“As ons nie nou ingryp nie, gaan die parke en sypaadjies nie meer bruikbaar wees nie”, sê Ingrid Human, voorsitter van AfriForum se Bethal-tak.

Die Bethal-tak maak ook weekliks 30 vullisdromme in die plaaslike sentrale besigheidsdistrik skoon, om die dorp netjies te hou. Verder beplan die tak om die Nestlè-brug en die nabye driehoek weer netjies te maak en te herstel. Dié gebied is eie aan Bethal en talle besoekers ry daagliks daar verby.

Sluit vandag nog by hierdie aktiewe tak aan: SMS “Bethal” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings