Borgtog aan Garth Simpson toegestaan nadat AfriForum appèl aanteken

Borgtog is vandag uiteindelik aan die boer van Dundee, Garth Simpson, toegestaan nadat AfriForum se regspan Simpson met sy appèl ondersteun het. Regter Poyo Dlwati het spoedig beslis dat daar onjuisthede was in die besluit om nie borgtog aan Simpson toe te staan nie.

Die 67-jarige Simpson was vir byna ses maande in aanhouding en sy familie is besorgd oor sy gesondheid.

Simpson word van moord aangekla ná ’n tragies skietvoorval op sy plaas. AfriForum is van mening dat Simpson uit selfverweer opgetree het en dat hy borgtog geweier is weens politieke inmenging in die saak.

AfriForum het vroeër aangekondig dat die organisasie Simpson met regshulp sal bystaan omdat dit lyk of Simpson ’n baie goeie verweer openbaar en moontlik suksesvol sal wees in sy verdediging, mits hy goeie regshulp het tydens die verhoor en nie die slagoffer word van nou al holruggeryde politieke en rasgebaseerde aantygings nie.

AfriForum raak as ’n reël nie by individuele sake betrokke nie, maar het ’n uitsondering gemaak omdat daar groter kwessies ter sprake is wat nie net die beskuldigde raak nie, maar die breër gemeenskap.

“Ons verwelkom die hof se besluit om Simpson se borgtog toe te staan. Hy is nie ’n bedreiging vir enigiemand nie, het geen kriminele rekord nie en het uit selfverweer opgetree. Howe moet besluite neem gebaseer op regsbeginsels en nie politiek nie. Die feit dat ’n lewe verloor is tydens die voorval is tragies, maar hoe die saak tot dusver hanteer is, is ’n growwe onreg wat reggestel moet word,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se bestuurder vir Veldtogte.

Soortgelyke plasings