|

AfriForum se Heilbron-tak maak reuseverskil met #OnsDorp-projek

Die AfriForum-tak in Heilbron het in September gewoeker met verskeie aksies wat ten doel het om die dorp veilig en netjies te hou. Daar is ondermeer padmerkers geverf in Langmark-, Pierce- en Kerkstraat en verskeie skoonmaak-aksies aangepak.

Die padgeute en middelman in Piercestraat is skoongemaak, ’n boom wat omgeval het en die pad versper het is ook opgesaag en verwyder.  Daar is ook vullis opgetel en verwyder by die area naby die dam, asook tussen Kerkstraat en die hospitaal en by die oop veld agter die munisipaliteit.

“’n Mens staan verstom oor die groot verskil wat net twee mense een dag per week kan maak. As die gemeenskap betrokke raak, dan maak ons die hele dorp sommer binne ’n week skoon,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder in die Mooirivier-streek.

Die tak herinner graag die gemeenskap dat die gholfdag om die draai is. Op 4 November kan lede van die gemeenskap gholf speel saam met adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, Raymond Hohls, hoof van Veiligheid by AfriForum en Corné Cronje, hoof van Strukture by AfriForum. Bespreek so gou as moontlik om teleurstelling te voorkom. 

Raak by AfriForum se Heilbron-tak betrokke om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak. Kontak Paul Berg by 081 354 3073.

Soortgelyke plasings