AfriForum se Kaapstad-Noord-tak sorg vir ’n groener toekoms


AfriForum se Kaapstad-Noord-tak het in samewerking met Oakdale Watch en as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantinisiatief 50 bome geplant. Die ontvangers van die bome het verskeie parke, skole en kerke in Bellville en Brackenfell asook die Tierkop Voortrekkerkommando in Parow ingesluit.

Volgens Deon de Jager, AfriForum se distrikskoördineerder in die Boland, het AfriForum vanjaar landwyd reeds meer as 3 000 bome geplant. “Deur inheemse bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en dit esteties te verbeter nie; ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is uiteraard ’n belangrike deel van die ekostelsel en ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron, maar ook deel van ons erfenis,” sê De Jager.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n algemene as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum het sy takke aangemoedig om inheemse bome te plant wat maklik in hul plaaslike omgewings aard.

“Projekte soos dié bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en AfriForum se Kaapstad-Noord-tak onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons as AfriForum hier is om te bly en ware hoop vir die toekoms het,” meen De Jager.

Die Kaapstad-Noord-tak moedig die gemeenskap aan om deel van ’n groener toekoms te word.

Soortgelyke plasings