|

Machadodorp-tak maak groot verskil in dorp deur opknappingsprojekte

Taklede het die afgelope maand ingespring en die grootste slaggate opgevul om sodoende verdere probleme te voorkom wat met die onlangse hoe reënval in die streek gepaard gaan.

Dié tak het onlangs 40 sakke teer vir hierdie doel ontvang . Vier noodwaterpunte is ook by verskeie plekke in die dorp opgerig om watertekorte en -onderbrekings in die dorp die hoof te bied. Een van die waterpunte is by die Machadodorp-polisiekantoor opgerig sodat die polisie steeds hul verpligtinge kan nakom.

As gevolg van swak munisipale bestuur is straatligte wat geblaas het ook ’n groot probleem daarom het die tak besluit om tien gloeilampe in die dorp met gloeilampe wat met sonkrag werk te vervang.

“Hierdie tipe projekte is nodig sodat goeie beligting in strate ons woonbuurte se veiligheid kan opskerp. Ons kan nie langer op die Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit vir basiese dienslewering staatmaak nie daarom vul ons self die slaggate op en installeer ligte wat met sonkrag werk,” sê Henrico Duvenhage, voorsitter van AfriForum se Machadodorp-tak.

“Hierdie bewys weereens dat AfriForum se selfdoen-inisiatief op grondvlak ’n positiewe verskil maak. Dit is noodsaaklik vir plattelandse gemeenskappe om eienaarskap van hulle woonbuurte te neem om verval te keer,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikkoördineerder vir die Laeveld.

Die tak moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak en deel van die oplossing te wees: SMS “Jou naam” na 45340 (R1) en sluit aan.

Soortgelyke plasings