|

AfriForum se Limpopo-buurtwagte hou massapatrollie

Die AfriForum-buurtwagte in Limpopo het in samewerking met die SAPD, die plaaslike GPF, gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies ’n massapatrollie op 8 April 2022 in hul onderskeie gebiede uitgevoer om polisiëringsigbaarheid te skep. Die aksie het omstreeks 18:00 begin en tot 06:00 die volgende oggend voortgeduur.

Die patrolleerders het altesaam 1 039 km in 51 voertuie afgelê. Ongeag die reën kon lede steeds daarin slaag om hoë sigbaarheid te handhaaf.

Voorvalle waarop die buurtwagte gereageer het, is hoofsaaklik dronk bestuur en dronk op straat. Die buurtwagte het drie arrestasies in samewerking met die plaaslike SAPD gemaak.

“Limpopo-buurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereeld patrollies hou om misdaad in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies hok te slaan en veiligheid te bevorder. Ons kan eenvoudig nie terugstaan nie en sal aanhou om seker te maak ons gemeenskappe is veilig,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se hoof van veiligheid in die noordstreek.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: SMS “Buurtwag” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings