|

Senzo Meyiwa: Saak uitgestel tot 22 April

AfriForum het regter Tshifhiwa Maumela se stellings dat vandag die laaste maal is dat hy aansoeke om uitstel sal oorweeg in die saak teen die vyf beskuldigdes wat onder meer aangekla word van die moord op Senzo Meyiwa die voormalige Bafana-Bafana-kaptein, verwelkom. Die regter het ook gesê dat, hoewel beskuldigdes sekere grondwetlike regte het, hulle nie die enigste groep mense is wat regte het nie – die familie van die oorledene en die gemeenskap het ook die reg op antwoorde oor wat met Meyiwa gebeur het.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n waaksaamheidsopdrag namens Ntombifuthi Meyiwa, asook Zama en Nomalanga Meyiwa (onderskeidelik die ma en susters van Senzo) in hierdie saak.

Regter Maumela het die saak teen Muzikawukhulelwa Sibiya, Bongani Sandiso Ntanzi, Mthobisi Prince Mncube, Mthokoziseni Maphisa, en SifikuhleNkani Ntuli Sifiso op aansoek van beskuldigde 5 se regsverteenwoordiger uitgestel tot 22 April 2022. Dit volg nadat adv. Zandile Mshololo aangevoer het dat sy verdere besonderhede van die staat af benodig en met verdedigingsgetuies moet konsulteer ten einde voldoende voor te berei vir die verhoor.

Die verhoor was te rolle geplaas om gister te begin, maar is op hierdie geleentheid ook uitgestel om beskuldigde 5 die geleentheid te gee om met sy regsverteenwoordiger te konsulteer omdat die staat, volgens adv. Mshololo, eers op 30 Maart sekere belangrike getuieverklarings aan die verdediging verskaf het. Ná konsultasie met haar kliënt gister, het sy vandag aangevoer dat beskuldigde 5 se verdedigingsaak as gevolg van die laat blootlegging van die getuieverklarings, nie voldoende voorberei is nie en dat sy meer tyd nodig het.

Soortgelyke plasings