|

Potgietersrus-buurtwag neem aan nasionale patrollie deel

AfriForum se buurtwag in Mokopane, het verlede naweek aan AfriForum se nasionale patrollie deelgeneem. Op 14 April het dié buurtwag aan die landswye operasie deelgeneem om sigbaarheid te verhoog, te handhaaf en nasionale kommunikasienetwerke en sinkronisasie in te oefen. Die patrollie het vanaf 18:00 Vrydagaand tot en met 06:00 Saterdagoggend geduur.

Die Potgietersrus-buurtwag het in samewerking met ander veiligheidsinstansies, sekuriteitsmaatskappye en die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) hierdie patrollie uitgevoer. Twaalf lede van dié buurtwag het deelgeneem en ongeveer 529 km in nege voertuie afgelê.

Die patrollie het ten doel gehad om hoë sigbaarheid in gemeenskappe te vestig. Die veiligheidsbaadjies, flitsligte, magnetiese plakkers en ligte vir die voertuie het gehelp om die doelwit te bereik. Deurentyd is daar via AfriForum se beheerkamer vir Gauteng, Limpopo en Mpumalanga met al die AfriForum-buurtwagte geskakel wat landswyd deelgeneem het. Buurtwaglede in Limpopo kon op hul operasionele Telegram-groep die presiese ligging sien van al die ander buurtwaglede in hierdie provinsie wat deelgeneem het.

“Ons bedank al die buurtwaglede vir hulle onbaatsugtige diens. Dankie dat julle professioneel en gedissiplineerd – binne die raamwerk van die wet – eienaarskap neem van julle veiligheid en die gemeenskappe s’n. Ek wil julle ook bedank dat julle doelgerig ’n netwerk van samewerking vestig om sodoende veiligheid te verseker. Ons belangrikste wapen is ons veiligheidsbaadjies en skakeling op ’n nasionale vlak. Kriminele onttrek hulself van ’n gemeenskap wat sigbaar en paraat is en saamwerk,” sê Magdel Jansen van Vuuren, distrikskoördineerder vir Limpopo.

Klik hier om by AfriForum se buurtwagte betrokke te raak.

Soortgelyke plasings