|

AfriForum se Margate-tak voorsien water aan gemeenskap

Die AfriForum-tak in Margate en die N.G. Kerk Margate se gemeenskaplike boorgat het die afgelope maand meer as 50 kl water aan die gemeenskap verskaf nadat die plaaslike munisipaliteit nie basiese toegang tot water aan die gemeenskap kon voorsien nie en ook nie watertenks beskikbaar gestel het nie.

“Die druk op ons plaaslike ekonomie en basiese lewenstandaarde is enorm. Individue en ondernemings kom haal daagliks vragte water wat net genoeg is om aan hul basiese behoeftes te voorsien,” sê Barry Smit, voorsitter van AfriForum se Margate-tak.

“Die munisipaliteit versuim sy pligte om water te verskaf en plaas die hele Ugu-distrik in ekonomiese en gesondheidsgevaar. Hierdie boorgatprojek is tekenend van wat ’n gemeenskap kan doen om self ’n volhoubare oplossing vir hul probleme te kry,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal.

AfriForum se Margate-tak nooi die publiek om by die tak aan te sluit en deel te word van die plaaslike bestuurspan om soortgelyke projekte regoor die Ugu-distrik uit te brei.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45267 (R1).

Soortgelyke plasings