| |

AFRIFORUM SE MESSINA-BUURTWAG EN SAPD NEEM VERDAGTE IN HEGTENIS WAT GEMEENSKAP GLO TEISTER

AfriForum se Messina-buurtwag het op 19 Mei 2021 in samewerking met die plaaslike SAPD ’n suksesvolle operasie uitgevoer waartydens ’n verdagte in hegtenis geneem is. Dié misdadiger is onwettig in die land en kan moontlik aan verskeie misdade in en om dié dorp verbind word.

Die gemeenskap is oor die afgelope paar maande aangeval, beroof en geteister deur ’n groep misdadigers wat baie aktief was in Musina. Ná verskeie verkenningstogte en vernuftige spoorsnywerk deur die buurtwag is inligting oor die groep verdagtes ingesamel. Hulle is in die Singelele-gebied in ’n verskuilde modderhut opgespoor. Die terrein is uiters onbegaanbaar en kan slegs te voet bereik word.

Ná deeglike beplanning en ’n volledige instruksie het die buurtwag saam met die SAPD ’n operasie beplan en op 19 Mei te voet na Singelele beweeg. Die buurtwag het ook ’n klein vliegtuig ingespan om tydens die operasie met verkenning te help.

Een van die verdagtes is vir betreding en onwettige immigrasie in hegtenis geneem. Daar word nou verder ondersoek ingestel om dié verdagte te verbind aan ander misdade wat in en om Musina gepleeg is. Twee ander verdagtes wat vermoedelik deel van die groep is, word nog gesoek.

“Ons kan nie langer duld dat misdadigers maak soos hulle wil nie. Daarom sal ons voortgaan om deur gedissiplineerde, wettige en goed beplande optrede misdadigers uit ons dorp en mooi omgewing te verdryf,” sê Kobus Boshoff, voorsitter van AfriForum se Messina-tak.

Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo, bedank die buurtwag. “Veiligheid is ’n voorvereiste vir selfbestuur en voorspoed. Suksesse soos hierdie lê die hoeksteen vir ons om vreedsaam te kan saamwoon en saam aan ons toekoms te kan bou. AfriForum se Messina-buurtwag stel ’n uitstekende voorbeeld van samewerking. Ons bedank ook die SAPD vir hul positiewe gesindheid en professionele optrede. Saam is ons sterker.”

Indien jy by gemeenskapsprojekte of die buurtwag in Musina betrokke wil raak, kan jy die gratis Telegram-toep aflaai en soek vir @AfriForumBuurtBott (https://t.me/AfriForumBuurtBot).

Soortgelyke plasings