|

AfriForum se Mooirivier-buurtwagte beskerm hulle gemeenskappe

Die AfriForum-buurtwagte in Mooirivier het in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies die gemeenskap in Mei veilig gehou. Daar is 557 patrollies deur die volgende buurtwagte gery: Bothaville, Parys, Sasolburg, Songloed, Potchefstroom, Stilfontein en Hartbeesfontein se buurt- en plaaswag.

In Bothaville is daar hulp verleen om ’n voertuig wat in die dorp aan die brand geraak het, te blus. In Sasolburg is daar ’n oorgrenspatrollie gehou en die SAPD is bygestaan met ’n soektog na verdagtes. Songloed het hulp verleen met ’n dwelmsaak en ook slaggate by die Schoonspruit Hoёrskool herstel omdat dit ’n veiligheidsrisiko ingehou het.

Hartbeesfontein se buurtwag verleen hulp met verskeie arrestasies vir die besit van gesteelde goedere. Hartbeesfontein se plaaswag was betrokke by verskeie veediefstalpogings waar sommige pogings gefnuik is en sommige diere teruggevind is. Stilfontein se buurtwag was behulpsaam by die arrestasie van inbrekers en het ook gesteelde koperkabels en die verdagtes aan die SAPD oorhandig. In Wolmaransstad was die buurtwag betrokke by die beveiliging van die dorp tydens die munisipale staking en hulle het ook ekstra patrollies gery.

Die buurtwagte in Parys en Potchefstroom het geen ernstige insidente aangemeld nie en skryf die afwesigheid van ernstige insidente toe aan die verhoogde sigbaarheid van die buurtwagte wat misdadigers ontmoedig om misdade te pleeg.

“Die Mooirivier-buurtwagte is werklik iets om op trots te wees. In al die dorpe en op die plase waar ons buurtwagte funksioneer, is dit hulle wat altyd eerste op tonele is, van watter aard ookal. Ek moedig die gemeenskap aan om in te skakel by die buurtwag om so ’n bydra te lewer om misdaad in Mooirivier hok te slaan,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: SMS “Buurtwag” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings