|

Onwettige mynbedrywighede: 76 myne myn sonder waterlisensies

AfriForum dring aan op onmiddellike optrede en aanspreeklikheid nadat dit aan die lig gekom het dat 76 myne in Suid-Afrika sonder die vereiste waterlisensies in verskeie van Suid-Afrika se grootste riviere bedrywig is. Hierdie feite is skokkend en stel dringende vrae oor die doeltreffendheid van die regering se regulering van mynbedrywighede en die beskerming van Suid-Afrika se waterbronne.

Die openbaring deur die Departement van Water en Sanitasie (DWS) dat tien van hierdie onwettige myne aktief is in die Vaalrivier, wat water aan miljoene mense in Gauteng, dele van Mpumalanga, Noordwes en die Vrystaat voorsien, is veral kommerwekkend. “Die Vaalrivier is ’n lewensbelangrike bron van drinkwater en lewensonderhoud vir ’n groot deel van ons bevolking. Ons kan nie toelaat dat hierdie kosbare hulpbron bedreig word nie,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum.

AfriForum beskou dit as onaanvaarbaar dat die Departement van Minerale Bronne en Energie en DWS nie effektief kommunikeer nie, en dat die owerheid nie betyds bewus was van hierdie onwettige praktyke nie. Dit toon ’n ernstige gebrek aan koördinering en toesig oor hierdie bedrywighede, wat ’n direkte impak op gemeenskappe en hul omgewing het.

De Klerk is van mening dat alle onwettige mynbedrywighede onmiddellik opgeskort moet word, terwyl ’n deeglike ondersoek van elkeen van hierdie sake plaasvind. “Ons dring daarop aan dat daar streng boetes aan die maatskappye opgelê word wat hierdie wette oortree het, en dat hulle ten volle aanspreeklik gehou word vir hul optrede.”

“Hierdie is ongelukkig net een aspek van onwettige mynbedrywighede is Suid-Afrika. Daar is talle van hierdie tipe mynbedrywighede regoor Suid-Afrika wat nie gereguleer word nie – soos waar myne oor hulle toelaatbare grense myn en so meer,” sê De Klerk voorts.

“Ons wil ook weet waar die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing is in hierdie situasie. Dit is noodsaaklik dat hulle ’n rol speel in die versekering van die langtermyn-omgewingsvolhoubaarheid van hierdie bedrywighede en dat hulle streng optree teen enige skadelike impak wat daar op die omgewing mag wees.”

AfriForum is vasbeslote om die regte van gemeenskappe en die beskerming van die omgewing te handhaaf. Die organisasie sal hierdie saak opvolg om te verseker dat die verantwoordelike partye aanspreeklik gehou word vir hul skadelike optrede.

Soortgelyke plasings