|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Dr. Havinga

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 27 Mei by Laerskool Dr. Havinga in Witpoortje besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, m.a.w. om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Boeliebewusmaking is baie belangrik in vandag se samelewing. Alhoewel ons nie by #onsskool ’n groot probleem hiermee ervaar nie is dit steeds belangrik om kinders te bemagtig met die nodige kennis en vaardighede sodat hulle weet hoe om op te tree indien hulle hulself in n boeliesituasie bevind. Om empatie te skep by leerders vir ander wat geboelie word is ook baie belangrik,” sê Elria Lennon, departementshoof van opvoedkundige leiding by Laerskool Dr. Havinga.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings