|

AfriForum se Nelspruit-tak maak natuurreservaat skoon

Die AfriForum-tak in Nelspruit het op 3 Maart 2022 in samewerking met die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit die park by die Steiltes Natuurreservaat se gras gesny en indringerplante uitgeroei. Die reservaat is ’n gewilde ontspanningsarea vir die plaaslike inwoners, drawwers en spesifiek kranige voëlkykers wat na die gesogte bosloeries kom soek wat in die reservaat broei.

Die munisipaliteit het toegesien dat die groter areas met hulle toerusting gesny word terwyl AfriForum die ontspanningsareas, heinings en parkeerarea met bossiekappers skoongesny en skoongevee het.

“Dit is vir ons ’n voorreg om ons parke en groenstroke skoon te hou. Dit gee inwoners die geleentheid om die areas te gebruik vir ontspanning sonder om onveilig te voel. Dit is verblydend om te sien dat die parke-afdeling van die munisipaliteit steeds hulle kant bring al het hulle uitdagings in verband met arbeidskrag en hulpbronne. Dit is juis waarom ons as tak wil help. Die tyd vir terugsit en kla is verby en dit is vir ons lekker om in te spring en self te doen,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

AfriForum se Nelspruit-tak nooi lede van die publiek uit om betrokke te raak by die plaaslike projekte om sodoende ’n verskil te maak in hulle woonbuurte.

Soortgelyke plasings