Malema-regspan se desperaatheid dui op verdoemende gewig van getuienis ná die eerste week van vuurwapen-saak

Dag vyf sowel as die eerste week van die strafregtelike vervolging van Julius Malema vir verskeie oortredings van die Wet op Vuurwapenbeheer is in die Oos-Londen Streekhof afgehandel. AfriForum het die strafregtelike klagtes teen Malema en sy lyfwag, Adriaan Snyman, aanhangig gemaak in 2018.

Sleutelgetuies het tydens die eerste week van die verhoor in die hof getuig, insluitend ’n ballistiese deskundige.

“In Februarie het Malema in die hof verskyn vir die Kill the Boer-haatspraaksaak waar die kernkwessie die aanhitsing tot geweld in daardie lied was. Nou verskyn Malema in die hof omdat hy na bewering ’n vuurwapen onwettig op ’n verhoog afgevuur het. Dit laat ’n mens wonder, wat is volgende? Om werklik slagoffers te skiet?” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Malema het tydens die haatspraaksaak getuig dat as hy en sy party die lirieke letterlik bedoel het sou hulle regte gewere op die verhoog afvuur en nie bloot met hul vingers beduie nie,” voeg Van Zyl by.

“Dit wil voorkom asof Malema en Snyman se regspan al hulle geld gewed het op ’n taktiek om oral twyfel in hierdie saak te probeer saai en om diegene wat getuig het, veral die ballistiese deskundige, te diskrediteer. Dit blyk egter asof hierdie taktiek nie werk nie,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder.

Die saak sal na verwagting voortgaan op 5 – 9 September 2022 in die Oos-Londen Streekhof.

Soortgelyke plasings