|

AfriForum se Oos-Kaap-buurtwagte help om veldbrande te bekamp

Ondanks sterk winde kon AfriForum se Winterberg-plaaswag en Walker Drive-buurtwag in die Oos-Kaap in samewerking met ander rolspelers op 18 Februarie groot veldbrande in Kareedouw bestry. Ongeveer 150 hektaar het gebrand, tesame met voorbrande wat gemaak is.

Hoewel die brande in oop velde buite die dorp gewoed het, het die risiko steeds bestaan om na ander areas te versprei. Die buurt- en plaaswag het saam met plaaslike boere en ander betrokkenes gehelp om die vuur op strategiese plekke hok te slaan.

“Winde het die vure aangejaag na gedeeltes wat reeds gebrand het en omstreeks 21:30 was daar areas wat steeds in vlamme verswelg was,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

“Ons buurtwagte was op ’n strategiese punt geplaas om die brand te moniteer vir as die vuur na ’n beboste area versprei. Ons het lyne gebrand om die vuur te verhoed om na ’n nabye plaashuis te versprei. Om 16:18 was die eerste buurtwaglede ontbied en om 22:00 het ons klaar lyne gebrand. Teen daai tyd het die brande steeds in die koppies gewoed.”

Van der Walt bedank elke patrolleerder en die verskeie rolspelers vir die tyd en energie wat hulle insit om die brande onder beheer te bring.

Raak vandag nog by jou plaaslike buurtwag betrokke: Klik hier om aan te sluit.

Soortgelyke plasings